Southern Cape & Karoo
Standard Wool steeds grootste wolkoper
14:19 (GMT+2), Thu , 27 February 2014
Southern Cape & Karoo
Standard Wool is steeds die grootste aankoper van wol op Suid-Afrika se wolveilings en het in die eerste ses maande (Julie tot Desember 2013) van die huidige seisoen wol ter waarde van R490 miljoen (27,5% van die totale waarde) gekoop.

Die naasgrootste koper is Modiano wat R432 se wol aangekoop het (24%). Derde op die lys is Lempriere SA wat R376 miljoen (21%) bestee het.

Dié drie maatskappye het saam wol ter waarde van sowat R1 289 miljoen aangekoop. Dit verteenwoordig 72% van die totale waarde van wol wat in dié tyd verkoop is.

Hoewel boere vry is om hul wol aan enigeen te verkoop, verkies die grootste persentasie om hul per veiling te verkoop. Net ’n klein persentasie wol word buite die veilingstelsel van die hand gesit.

Veilings is in Port Elizabeth gesentraliseer en word gedurende die verkoopseisoen een maal per week (op Woensdae) onder die beskerming van die die Suid-Afrikaanse Wol- en Bokhaarkopersvereniging (SAWAMBA) gehou. Die wolverkoopseisoen strek van middel Augustus tot middel Junie.

Enige koper wat wol per veiling wil koop, moet by SAWAMBA geregistreer wees en moet aan sekere vereistes voldoen en sekere waarborge lewer. Dié maatreëls is ingestel om te voorkom dat wol aangekoop word en die koper verdwyn voordat hy betaal. Daar is tans nege wolkopersmaatskappye geregistreer.

Nagenoeg 98% van die Suid Afrikaanse skeersel word uitgevoer. Die grootste invoerders is China, die Tsjeggiese Republiek, Italië, Indië en Egipte.


Gallery
AgriEco
Voting Poll
N