Highveld
Boer is in my bloed
09:35 (GMT+2), Mon , 07 July 2014
Highveld
Die De Beer gesin. Hannes en Chantelle by hul seuns Ruvaan en Hannes.
“Ek boer want dit is in my bloed,” sê Hannes de Beer. Die uitdrukking op sy gesig wys dat hy dink dit die vanselfsprekende antwoord op die vraag “Hoekom boer jy?” vir enige boer sal wees.

Hannes (31) het direk nadat hy aan die Hoër Tegniese Skool in Middelburg gematrikuleer het, gaan doen wat al van kleins af in sy are pomp - boer.

Die jong boer, wat saam met sy pa Hannes (senior) op die plaas Broodsnyersplaas werskaf, is nie net ’n ekstra paar hande op die werf nie. Hy het ou tradisies suksesvol met nuwe tegnologie laat trou.

Die landboubedryf kom ’n lang pad vandat ’n span osse voor ’n ploeg gebruik is om te plant en daar met die hand gedors is tot waar dit vandag is. Die tegnologie wat die De Beers gebruik om optimale produksie te bereik, is verbysterend.

Met behulp van presisie boerdery en Raven Slingshotsisteme kan Hannes ’n fyn ogie hou oor die 1 400 hektaar wat hulle plant. Hy kan sy planters se kallibrasie van sy slimtablet verander, waar hy hom ookal bevind.

Hannes is ’n Case man. Agter die Case trekkers span hy Massey planters in. Monitors in die trekkers en op die planters bepaal goed soos die plantestand en kunsmistoediening met pynlike presiesie. As die trekker van een land na die ander beweeg, kan Hannes op sy rekenaar toesien dat die planters gekallibreer word volgens die nuwe land se behoeftes.

Elke aand word daar ’n verslag van elke monitor na ’n sentrale rekenaar gestuur. Daarop kan Hannes kyk of alles in die haak is. Foute kan vinnig raakgesien en reggemaak word.

Hy kan ook “lewendige” terugvoer ontvang. Dit beteken hy kan kyk wat presies die planters op daardie stadium doen, hoeveel kunsmis daar per hektaar toegedien word en selfs hoe vinnig die trekkers ry.

Hierdie sal die De Beer Boerdery se derde seisoen wees wat hulle met die monitors plant. En dit is beslis die moeite werd sê Hannes.

Hy sê dat die behoefte vir boere om meer tonne per hektaar te produseer al hoe groter word. Met die perfekte reëntoestande, bemesting en plantestand is dit moontlik. Hy het op een plek tot 16 ton per hektaar gestroop.

Volgens Hannes sal mielieboere in die verre toekoms aansienlik meer tonne per hektaar moet produseer om voedselsekerheid te verseker. Dit gaan ’n groot uitdaging wees as mens in ag neem dat beskikbare landbougrond al skaarser en duurder raak.

Maar vir nou is die silo’s vol en die stropers loop. Die De Beers is, soos wat hulle plaas se naam lei, virseker hard aan die spook om ’n sny van die brood wat die nasie moet voed, met behulp van die nuutste tegnologie te produseer.

Gallery
AgriEco
Voting Poll
N