Highveld
Kry knipmes reg vir skaapkoppe
09:58 (GMT+2), Mon , 07 July 2014
Highveld
Jaap Meyer geniet sy skaapkop.
Die Hartland Landbouskou gebeur nie sommer vanself nie.  Ongelooflik baie voorbereiding word in so ’n skou ingesit

Maar hoe berei jy jouself verstandelik en emosioneel voor vir so ’n groot geleentheid?

Dis eintlik baie maklik - Jy kom na die skaapkopaand wat by Pienaardam aangebied word op 1 Augustus 2014.

Die ongekunstelde samesyn tussen boere en dorpenaars syfer deur jou are en maak ’n landbougevoel in jou binneste wakker soos wat min ander dinge dit sal kan doen.

Kyk, ’n skaapkop is nie vir sussies nie, veral nie as jy ’n oningewyde op die tradisionele kos se gebied is nie.

Daarom word daar vir die intrapfases ook kerrie skaapafval, beesstertpotjie, of halwe hoenders voorsien.

Vir kenners is dit ’n koningskos, en hulle kan nie wag om hulle tande in so ’n skaapkop in te slaan nie – hulle weet al immers hoe om hulle knipmesse vernuftig te hanteer om letterlik net die beste uit die kop te haal.

In die laaste maand van die winter is ’n mens se sitvlak al deurgesit voor kaggelvure en plasmaskermtelevisies en jou lende smeek jou om uit jou staat van hibernasie terug te keer na ’n meer aktiewe lewensstyl.

Die skaapkopaand het daarvoor ook die antwoord, aangesien ’n behendige platedraaier die koel naglug met gaan vul met opwindende dansmusiek, so reg in die boer met ’n rooiveldskoen se kraal.

Tradisie is ’n goeie ding, maar te veel van ’n goeie ding is ook nie altyd goed nie.

Daarom is daar besluit om hierdie jaar ’n skaapkopaand met ’n verskil aan te bied. Twee profesionele “belly-dansers” sal sorg vir hope vermaak en opwinding.

Moet nie uitmis op die opwindende aand nie en kom warm solank op vir die Landbouskou later die jaar. Maak seker jou plek is bespreek by 013 282 7816 of bel Catrien by 079 882 5207 vir meer inligting.


Gallery
AgriEco
Voting Poll
N