Southern Cape & Karoo
Winsgewende Melkboerdery: Begin by die begin
11:24 (GMT+2), Thu , 07 August 2014
Southern Cape & Karoo
Jurie Wessels
Daar word selde gekyk na die invloed van optimale kalfgroei vanaf dag een op die winsgewendheid van jou melkboerdery het.

In die Julie-uitgawe het ons gekyk na kolostrumvoorbereiding en plek van kalf. Vandag kyk ons na drie ander belangrike aspekte.

Kolostrum-inname

Saam met die plek van kalf is kolostrum-inname seker van die belangrikste boustene van suksesvolle kalfbestuur.
Die koei dra GEEN teenliggame via die plasenta na die kalf oor nie, dit gebeur net deur die inname van die eerste melk wat kolostrum genoem word. Die oorlewing van die kalf word in hierdie vroeë stadium deur twee faktore bepaal naamlik:
1. Die hoeveelheid teenliggame wat in die eerste agt ure ingeneem word, en 2. Die hoeveelheid kieme waaraan die kalf in die eerste 14 dae blootgestel word.

Die kalf moet so gou as moontlik binne die eerste twee ure twee liter goeie kwaliteit kolostrum inkry. Hoekom praat ons hier van ure? Die dunderm het vir die eerste 24 uur groter openinge om die teenliggame in die kolostrum direk in die bloedstroom te kry. Die opening verklein egter baie vinnig en na agt ure gaan die kalf nie meer genoeg teenliggame inkry nie. Om die kalf by die koei vir drie dae te los en vir die werker te sê dat hy moet kyk dat die kalf dik suip, gaan jou vir altyd laat sukkel met maagwerk. Eerstens weet jy nie hoeveel en van watter kwaliteit die kolostrum was nie.

Behuising

Hier geld daar 'n paar belangrike reëls veral in die eerste 14 dae:
1. Die kalf moet droog bly.
2. Die kalf moet nie in 'n wind wees nie.
3. Daar moet genoegsame beddegoed wees en daar moet goeie vliegbeheer wees. 'n Kalf wat koud kry gebruik sy energie om hom warm te hou en hy gaan nie groei nie. Dit maak nie saak hoe jou behuising lyk nie en of jy nou een of tien kalwers in 'n hok hou nie, as dit aan die bogenoemde vereistes voldoen, kan jy suksesvol wees.

Voeding

Hieroor is ook baie argumente soos twee of meer voedings per dag. Watter praktyk jy ook al gebruik, onthou net die volgende: Pasop vir te veel melk op 'n keer veral in die eerste 14 dae. Die oortollige melk loop onverwerk in die dunderm of onaktiewe rumen in en word basies vrot en so veroorsaak jy die kalwers se maagwerk. Voer tussen 8 en 10% van liggaamsgewig per dag.

*Jurie Wessels bied 'n inligtingsessie vir suiwelboere aan oor kalfbestuur vir vervangingsverse tydens vanjaar se Agri Herold Landboufees. Kontak hom vir meer inligting en om te registreer by 082 33 6646.



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N