North West
Beddegoedbestuur vir pluimvee is noodsaaklik
10:27 (GMT+2), Fri , 05 September 2014
North West
Die vloerbedekking of beddegoed in hoenderhuise kan gesien word as een groot, lewende organisme wat baie uitdagings aan die braaikuiken kan bied. Sonder behoorlike beddegoedbestuur, staar pluimveeprodusente mislukking in die oë.
 Die vloerbedekking of beddegoed in hoenderhuise kan gesien word as een groot, lewende organisme wat baie uitdagings aan die braaikuiken kan bied. Sonder behoorlike beddegoedbestuur, staar pluimveeprodusente mislukking in die oë.

Vir sommige pluimveeprodusente is die vloerbedekking van braaikuikenhuise soos ’n ou vriend en vir ander, een van hul grootste vyande. Sonder behoorlike beddegoedbestuur, kan produsente hulself vir mislukking voorberei selfs nog voordat hulle boerdery behoorlik van die grond af is.

Maak die regte keuse

Die belangrikste doel van beddegoed is om vog te absorbeer en die kuikens van die koue grondoppervlaktes te isoleer. Die ideale beddegoedmateriaal moet vog kan absorbeer, maklik uitdroog, asook oor goeie isolasie-eienskappe beskik.
Enige beddegoed wat die kuikens moontlik kan beseer, moet vermy word. ’n Maklike toets om dít te bepaal, is om ’n handvol beddegoed in die hand saam te druk; indien dit seermaak of gevoelig is, is dit nie geskik vir die kuikens nie.
Beddegoed moenie deur gifstowwe, chemikalieë en swamme besoedel wees nie, aangesien kuikens tot soveel as 4% van die beddegoed kan inneem.

Daar moet seker gemaak word dat die beddegoed droog is. Die ideale beddegoed het tussen 25% en 30% vog. Materiaal wat natgeword het, mag reeds swamgroei ophê. Die risiko aan beddegoed wat in ’n stadium natgeword het voordat dit in die hok geplaas word, is groot. Vrektes as gevolg van swamme op die beddegoed kan selfs 100% verliese tot gevolg hê. Beddegoed moet dus só gestoor word dat dit nooit aan vog blootgestel is of kan natreën nie.

Produkte soos saagsels wat fyn is en gevolglik stowwerige toestande in die hoenderhuis kan veroorsaak, moet sover moontlik vermy word. Fyn saagsels droog nie vinnig uit indien dit eers nat is nie, omdat dit makliker saampers tot ’n koek en ’n digte laag vorm wat die verdamping van vog uit die beddegoed beperk.

Gevolge van swak beddegoedbestuur

Uriensuur word deur die kuikens in hul mis uitgeskei. Tesame met organiese stikstof word hierdie uriensuur na ammonium (NH4+) omgeskakel. In die teenwoordigheid van nat mis, breek bakterieë van hierdie ammonium af om ammoniak (NH3+) te vorm.

Ammoniak verlam die silias in die tracheas van die hoender, wat beteken dat die eerste linie van verdediging teen virusse en bakterieë sodoende vernietig word. ’n Toename in asemhalingsprobleme kan gevolglik opgemerk word, terwyl die hoender ook meer vatbaar is vir siektes. Die sole van die hoender se pote kan moontlik beskadig word indien bakterieë daar indring. Bakterieë kan selfs na die gewrigte versprei en sodoende gewrigsontsteking tot gevolg hê. Hierdie soolbrand kan die beweeglikheid van die hoender beïnvloed, wat op sy beurt tot verlaagde voerinname, asook verhoogde afgradering van vleis kan lei.

Verhoogde vlakke van ammoniak verhoog gewoonlik die stresvlakke van die hoender, wat die groeipotensiaal negatief beïnvloed en uiteindelik swakker voeromsette tot gevolg sal hê.

Oorsake van swak beddegoed

In hoenderhuise wat swak geïsoleer is, kondenseer vog aan die onderkant van die dak, vanwaar dit dan op die beddegoed drup. Indien koue lug die hoenderhuis binnekom, gewoonlik by die gordyne en die deure, en op die warm beddegoed val, veroorsaak dit nat beddegoed. Kondensasie teen die koue mure veroorsaak dat vog teen die muur afloop en die beddegoed benat.

Drinkbakke (Engels: nipple drinkers) wat swak bestuur word en te laag, te hoog of ongelyk hang, veroorsaak nat beddegoed. Waterdrinkers wat nie onderhou word nie en lek, is nóg ’n oorsaak.
Voer kan ’n invloed op die beddegoed hê indien te veel sout daarin aanwesig is. Dit lei gewoonlik tot verhoogde waterinname, wat op sy beurt tot nat mis aanleiding gee. Sekere koksidiostate word geassosieer met metaboliese veranderinge wat nat mis tot gevolg kan hê.

Nog ’n oorsaak van nat beddegoed is swak ventilasie. Oorventilasie is geneig om beddegoed/mis uit te droog en stowwerigheid te veroorsaak. Onderventilasie kan op sy beurt nat beddegoed tot gevolg hê, omdat die humiditeit in die hok verhoog en veroorsaak dat beddegoed nie uitdroog nie.

Voorkoming

Hoenderhuise moet behoorlik geseël word om te voorkom dat koue lug onbeheersd ingelaat word; dit sluit isolasie van die dak in. Daar moet ook seker gemaak word dat voldoende hittekapasiteit teenwoordig is om die huise genoegsaam te kan verhit, sodat daar nie ondergeventileer hoef te word ten einde temperature op verlangde vlakke te handhaaf nie. Die opbou van vog in die huis kan ook voorkom word deur te verseker dat ventilasievlakke deurgaans korrek is en aan die kuikens se behoefte voldoen.

Mis moet gereeld omgedraai word ten einde korse en nat kolle te voorkom. Die nat kolle moet verkieslik uitgehaal word en nie met ander mis vermeng word nie. Mis moet egter slegs gedraai word indien voldoende ventilasie kan plaasvind, soos byvoorbeeld in die laatmiddag. Mis wat soggens gedraai word wanneer min ventilasie plaasvind, is geneig om dadelik weer vasgetrap te word en ’n bykomende harde laag/kors te vorm, wat verdamping sodoende beperk.
Lekkende drinkbakke en nipple drinkers moet herstel word voordat dit nat kolle veroorsaak.

Indien daar met nat beddegoed gesukkel word, kan gepoog word om die beddegoed uit te droog deur middel van verhoogde ventilasie. Indien die temperatuur terselfdertyd verhoog word, kan verdamping vanaf die beddegoed bespoedig word. Warm lug se waterhouvermoë is hoër as dié van koue lug en daardeur kan meer vog uit die huis verwyder word.
’n Maklike maatstaf vir goeie beddegoed kan bepaal word deur ’n handvol beddegoed te neem, dit styf vas te druk en hand oop te maak. Indien die beddegoed los van mekaar val, is dit te droog. Indien dit in ’n bondeltjie vasklou, is dit te nat.

OPSOMMING

Goeie beddegoedbestuur is sekerlik een van die heel belangrikste aspekte ten opsigte van die suksesvolle groei van braaikuikens en hou soveel voordele in dat dit net eenvoudig nie geïgnoreer kan word nie. Die produsent wat geen toleransie vir nat beddegoed toon nie, is die produsent wat deurgaans goeie resultate behaal en ’n suksesvolle onderneming bedryf. Dit is dus ononderhandelbaar en absoluut die moeite en geld werd om alles in die stryd te werp om beddegoed deurgaans droog te hou.


Gallery
AgriEco
Voting Poll
N