Eastern Cape
Hoe skadelik is jou plaagbeheer?
10:30 (GMT+2), Mon , 08 September 2014
Eastern Cape
Plaagbeheer is aangeteken alreeds so vroeg as die tyd van die Egiptenare. In daardie dae was die plaagdoders maar redelik dun gesaai en swawel was een van die mees algemene middels wat gebruik is. Die eintlike plaagdoderrewolusie het eers na die Tweede Wêreldoorlog gekom toe die meer moderne insekdoders soos organofosfate en karbamate ontwikkel is. Die swamdoders en onkruiddoders het ook vlam gevat en teen die middel van die 1970s was die mark met letterlik duisende plaagdoders gedek. Die ontstaan van weerstandbiedende organismes asook kommer oor die omgewingsimpak van sommige plaagdoders het die wetenskaplike genoop om na ander tegnieke as bloot sintetiese middels in plaagbeheer te kyk. Daar is alreeds ‘n hele klomp belowe natuurlike middels soos spinosad, asadiragtien en raapolie op die mark maar het stuit die nie ontwikkeling van nuwe konsepte nie. Die jongste veld van biologiese plaagbeheermiddels het die afgelope twee dekades effens voete gesleep maar skielik onlangs spoed opgetel omdat die plaagdoderbedryf na nuwe tegnologie soek anders as bloot chemie. Chemie is in elk geval ‘n redelike duur opsie al is dit natuurlike chemie en soms is die ontwikkelingskoste so hoog dat produkpryse dit onaantreklik in die mark maak. Biologiese middels is ‘n goeie stel middels wat komplimentêr tot die bestaande sintetiese en natuurlike chemiese middels aangewend kan word. een van die beste voorbeelde van biologiese middels is die Bacillus thuringiensis bakterieë wat alreeds stewig in die mark gevestig is. Dit word onder andere gebruik om muskietlarwes in staande water en selfs riviermuggielarwes in lopende water te beheer. Hierdie middels is oor die algemeen hoogs spesifiek vir hul teikens en het baie gunstige omgewingsprofiele met min of geen negatiewe impakte op die natuurlike omgewing. As hulle korrek volgens die etiketvoorskrifte aangewend word is daar dikwels geen rede om verdere beheer toe te pas nie. Dit is egter belangrik om biologiese middels, net soos chemiese middels, in ‘n geintegreerde plaagbeheerstelsel te gebruik. Slim werk is die sleutelwoord: moet nie wegspring met middels wat die gunstige predatore sal doodmaak nie en kies liewers die sagte middels wat soms chemies of soms biologies van aard kan wees. As die plaag later van tyd sy rug styf maak, dan word die sogenaamde harde middels gebruik. Die vrugtebedryf se produsente is voor in die koor met geintegreerde plaagbeheer en gebruik alreeds baie biologiese en natuurlike middels saam met hul chemiese middels. Gaan biologiese en natuurlike middels die chemiese middels heeltemal verplaas? Ons weet nie regtig nie maar alle aanduidings is dat die biologiese en natuurlike middels baie vining veld wen en waardevolle toevoegings tot die plaagbeheerbedryf is. Van die groot plaagdodermaatskappye het alreeds miljarde belê in biologiese en natuurlike middels omdat daar soveel goeie potensiaal in diesulke middels bestaan. Suid-Afrika se wetgewingsraamwerk stel dieselfde streng vereistes aan biologies en natuurlike middels as wat dit aan chemiese middels stel. Dit beteken dat as ‘m biologiese of natuurlike middel geregisteer word, kan die verbruiker verseker dat dit effektief gaan wees omdat die proewe daarvoor baie streng en noukeurig uitgevoer is. Daar word ook met proewe verseker dat daar nie ongustige of skadelike patogene in sulke middels is nie. Die finale boodskap is: moet nei skepties wees nie, gebruik sulke middels volgens voorskrif en sien self die resultate daarvan!!

Gallery