Western Cape
Bestuur ons roofdiere of bestuur ons predasie?
10:55 (GMT+2), Fri , 31 October 2014
Western Cape
Sedert Jan van Riebeeck se drie skippies in Tafelbaai anker gegooi het, was daar ‘n stryd tussen roofdier en mens. Die ingeburgerde antagonisme van die Europeërs teen roofdiere het verdere beslag in Suid-Afrika gevind toe die Nederlanders met leeus, luiperds, hiënas, jagluiperds, jakkalse en rooikatte slaag geraak het. Mens kan jouself net indink watter ontsag Afrika se groot roofdiere by die vreemdelinge moes ontketen het, veral omdat hulle grootste roofdiere in Europe wolwe en ‘n paar bere was. Die geveg met roofdiere is al amper geneties in Suid-Afrikaners gevestig en dit gaan baie lank neem om daardie genetiese kodes uit ons DNA uit te teel!

Tog is daar lig op die horison: daar is ‘n klemverskuiwing by veeprodusente interme van roofdiere. Waar ons tot onlangs toe met woede roofdiere met allerhande tegnieke probeer uitwis het, is die filosofie deesdae eerder om die predasie te bestuur as om die roofdiere te bestuur. Dit is ‘n baie goeie vertrekpunt want dis oor en oor bewys dat die onwillekeurige doodmaak van jakkalse en rooikatte meestal nie die predasie laat afneem nie. Dit gaan eerder oor metodes wat met mekaar geintegreer word om die predasie te bekamp.

Die Nasionale Predasiebestuursforum (Predation Management Forum of PMF) is ‘n inisiatief van die Nasionale Wolkwekersvereniging, die Roofvleisprodusente Organisasie, die Sybokhaarkwekersvereniging en Wildbedryf Suid-Afrika wat daarop gemik is om produsente by te staan met ekologies versoenbare predasiebestuur. Die Departement Omgewingsake asook Departement Landbou is ook deel van die forum. Produsente moet gerus die webtuiste www.pmfsa.co.za besoek waar daar gereeld kundige raad aangebied word. Vrae oor predasie kan na die webtuiste se administrateur gestuur word sodat kundiges toepaslike antwoorde kan verskaf.

Die NWKV het benewens hul deelname aan die PMF ook ‘s spesialis in die vorm van Niel Viljoen wat opleiding oor predasiebestuur verskaf. In die streke waar Niel die kleinveeprodusente opgelei het is daar reeds drastiese afname in predasie en dit is tog waarna elke produsent streef. Daar is plekke waar predasie van 26% na tussen 2% en 6% gedaal het en dit laat enige produsent meer moed vir die toekoms kry. Alhoewel dit effens moeite en tyd verg om die bestuursplan wat Niel aanbied te implementeer is dit uit en uit die moeite werd vir produsente om dit toe te pas.

Alle produsente word uitgenooi om van die PMF se aanbod gebruik te maak. Moet nie jouself teen die probleem vasloop nie. Dikwels is dit baie moeilik vir ‘n produsent om vas te stel watter roofdiere predasie pleeg en as mens daar vashaak is die stryd verlore. Kontak die PMF via die webtuiste en dien navraag. Dit word met graagte geantwoord want elke keer as ‘n navraag geantwoord word, word die kundigheid rondom predasiebestuur uitgebrei en met andere gedeel.

Predasiebestuur is nie alleen gefokus op bestuur van die roofdiere nie maar ook op gesonde vee- en wildbestuur, voorkoming van predasie deur ordentlike omheining, afweertegnieke en skrikmaaktegnieke. Nie een tegniek alleen kan die predasieprobleem oplos nie maar deur alles saam te integreer kan dit die boer ten baat wees.

Daar is baie sogenaamde dierewelsynsmense maar as mens die algemene produsent onder die loep plaas, kom jy agter dat hy eintlik die ideale dierewelsynskundige is wat na die welsyn van sy diere omsien maar ook na die welsyn van die wilde diere, insluitende roofdiere, op sy plaas omsien. Dra jou natuurlike vesels en benut die vleisprodukte met die wete dat die produsent nie net doodmaak nie maar verseker dat alles in balans op sy plaas is.



Gallery