Western Cape
Veeboere moet kennis dra van grond
10:56 (GMT+2), Fri , 31 October 2014
Western Cape
In die verlede was grootliks gekonsentreer op slegs die bogrondse produksie van die weiplant, terwyl die ondergrondse dele nie die nodige aandag geniet het wat dit verdien nie. Alhoewel die wortelstelsel nie ‘n direkte bydra maak tot plantproduksie vir die veeboer nie moet die belangrikheid daarvan in die funksionering van die weidingekosisteem nie onderskat word nie

Oor die algemeen kom 80% van graswortels in die boonste 200 mm grondlaag by meeste veldtipes in Suid-Afrika voor. Hierdie oppervlakkige wortels is verantwoordelik vir plantproduksie, terwyl die dieper wortels se hoof funksie oorlewing van die plant is. By veld in ‘n goeie toestand spesifiek, kom 73% en 88% van die wortelmassa in onderskeidelik die boonste 150 mm en 300 mm grondlae voor. Soos reeds genoem is hierdié oppervlakkiger wortels grootliks vir produksie verantwoordelik. Nogtans sorg die wortels wat dieper as 300 mm die grondprofiel indring, en maar 12% van die totale wortelmassa beslaan, gewoonlik vir die grasplant se oorlewing in droogtes. Hul waarde moet nooit in ‘n weidingstelsel onderskat word nie. Studies het byvoorbeeld getoon dat Themeda triandra (rooigras) se wortels die grond tot so diep as 2 m binnedring.

Hierteenoor kom 44% van die totale wortelmassa van swak veld in die boonste 50 mm van die grond voor. Dié veld kan met wisselvallige reënval nie ‘n stabiele en konstante produksie oor die duur van die groeiseisoen handhaaf nie en is ook net op oorlewing ingestel. Groot dele van Suid-Afrika is juis onderhewig aan geweldige seisoenale skommelinge in reënval. Sulke veld in swak toestand reageer wel vinnig op reënbuie, maar ongelukkig is dit van korte duur en is die plante nie instaat om dieper grondwater te onttrek nie. Uit bogenoemde verspreidingspatroon van die graswortels is dit te verstane waarom weiveld in goeie toestand, weens die benutting van beide oppervlakkige en dieper grondwater, droogtes beter kan hanteer en 'n meer konstante voervloei en hoër diereproduksie kan handhaaf.

‘n Boer wie se weiveld oor ‘n swak ontwikkelde wortelstelsels beskik, benut dus net die boonste grondlagie op sy plaas, terwyl gesonde wortelstelsels die voedingstowwe en opgegaarde water van die hele grondprofiel kan benut. Met veld in swak toestand skep die boer eintlik sy eie droogtes – sogenaamde mensgemaakte droogtes. So ‘n boer se plaas is teoreties dus kleiner as wat werklik op die transport en akte dokument staan. Vertikale uitbreiding in plaas van horisontaal is die voorland vir ‘n boer wie se veld in swak toestand verkeer

Die hoër wortelmassa en beter verspreide wortelstelsels wat by veld in goeie toestand voorkom, het ‘n meer groeikragtige plant tot gevolg en daarom die beter weidingkapa­siteit vanaf sulke veld. Dit is daarom nie net meer diere wat op goeie veld aangehou kan word nie, maar die inkomste per eenheid reënval is ook aansienlik hoër as dié van veld in swak toestand. Veld in swak toestand verhoog gevolglik die intensiteit en frekwensie van droogtes wat ‘n normale verskynsel in die droë weivelddele is. Dit is gevolglik nie net die grote van ‘n plaas wat bepaal of dit ‘n ekonomiese eenheid is nie, maar die toestand of gesondheid waarin die veld verkeer.




Gallery