Limpopo
SAJWV se Chris Niehaus dien sy bedanking as HUB in
09:19 (GMT+2), Tue , 20 January 2015
Limpopo
Die Suid-Afrikaanse Jagtersen Wildbewaringsvereniging (SAJWV) het onlangs met spyt die bedanking van hulle
hoof uitvoerende bestuurder, Chris Niehaus ontvang.
Niehaus se: “Dit is met spyt dat ek lede moet meedeel dat ek as SAJWV se hoofuitvoerendebeampte (HUB) bedank het.
“‘n Mens bereik ‘n stadium in jou lewe dat jy moeilike besluite moet neem.
Ongeag die keuse wat jy maak sal daar teleurstelling wees en dit is die situasie waarin ek my nou bevind.”
Hy en sy verloofde verhuis na Duitsland.
“Ek het my tyd by SAJWV geweldig geniet en saam met mense gewerk van wie ek hou en respekteer. Ek
hoop dat ek oor die afgelope 15 maande ‘n verskil gemaak het en dit steeds sal doen totdat ek die vereniging in
Desember verlaat, of vroeër indien ek moet plek maak vir my opvolger.
“Hoewel ek voel dat daar steeds belangrike dinge is wat ek graag sou wou bereik, is ek die geleentheid gegun om ‘n nuwe lewe te begin en ‘n nuwe rol te vervul.
“Dit was ‘n voorreg en ‘n plesier om saam met SAJWV se president, Fred Camphor, en die ander lede van die uitvoerende komitee te werk.
Ek vertrou dat SAJWVlede waardering het vir die bekwame en wyse leierskap wat aan die stuur van die vereniging staan.”
Hy het ook die geleentheid gebruik om ‘n opinie oor die teel van eksotiese wild uit te spreek.
“Die selektiewe teel van inheemse wildspesies ten einde buitengewone trofeediere met ongewone kleurvariasies of besondere trofee-eienskappe te produseer, het in 'n bedryf van sy eie ontwikkel. In die meeste gevalle word hierdie diere in intensiewe of semi-ekstensiewe toestande aangehou wat selektiewe teling, roofdierbeheer en veeartseny-intervensies
moontlik maak. Die wins wat voortspruit uit die verkoop van teelkuddes, hoofsaaklik, of deur middel van trofeejag tot ‘n mindere mate, en waarvan die volhoubaarheid bevraagteken word gegewe die SCI, CIC en Rowland Ward se standpunt oor selektiewe telling vir trofeediere is substansieel.
“Wanneer dit gekombineer word met slim bemarking deur vooraanstaande rolspelers, moedig dit voormalige ekstensiewe wildboere aan om in intensiewe kuddeteling te spesialiseer. Dit is SAJWV se verantwoordelikheid om die belange van sy
lede oor die lang termyn te beskerm sodat hulle steeds tipiese inheemse spesies volgens verantwoordelike en regverdige beginsels kan jag. Dit is veral van toepassing op die bewaring van die genetiese diversiteit van jagbare spesies en die beskerming van ‘n ekstensiewe wildlewesisteem wat noodsaaklik is vir regverdige jagpraktyk.
Neigings in die wildbedryf het ook ‘n aansienlike uitwerking op die prys van lewendige wild (ook dié met normale kleure). ‘n Oppervlakkige studie oor die verhandeling van rooibokke het getoon dat die prys gestyg het van gemiddeld R1 325 in 2013 tot ‘n gemiddeld van R3 200 (April en Mei 2014) per bok.
“Die ekonomiese argument is dat ‘n boer ‘n gewone rooibokooi koop en haar met ‘n kleurvariasieram paar waarna hy lammers vir tussen R20 000 en sowat R30 000 stuks kan verkoop as splits.
“Hoekom dan sal ‘n boer ‘n rooibok vir R1 000 stuk laat jag as hy soveel meer kan kry vir dieselfde bok by ‘n veiling,” vra Niehaus.
Daar is dus geen twyfel nie dat die prystendens van jagbare diere in die toekoms nie in die belang van SAJWV se lede is nie. Daarom is dit noodsaaklik dat SAJWV 'n goed-deurdagte standpunt oor hierdie praktyke in die wildbedryf formuleer en 'n plan van aksie beraam en uitvoer.
Die uitvoerende komitee kyk daarna en sal sy strategie aan lede bekendmaak.


Gallery
AgriEco
Voting Poll
N