Lowveld
Arende nie die sondebokke nie
09:49 (GMT+2), Fri , 13 February 2015
Lowveld
 Die naam “lammervanger” is amper soos ‘n swetswoord in Afrikaans. Enige groterige roofvoël met kloue en krulsnawel is in die ou dae as ‘n lammervanger afgemaak as hy naby ‘n skaaptrop gekom het.

Dit was witkruisarende, breëkoparende, roofarende, berghane, rooiborsjakkalsvoëls en selfs bleeksingvalke wat die lelike naam gekry het omdat die algemene geloof was dat dié voëls lammers vang. Die mistieke baardaasvoël se ou naam was lammergeier as gevolg van dieselfde gedagte.

Met die koms van ‘n sterk bewarings bewustheid onder die oorgrote meerderheid boere, is die term lammervanger al amper ‘n oernaam.

Die meeste mense weet dat slegs sommige arende soms ‘n lam sal vang en dat die baardaasvoël glad nie jag nie. Tog is daar kommer oor die gedrag wat sommige arende, veral witkruisarende, mag aanleer wanneer hulle gunstelingdassieprooi skaars raak.

Ons kan beslis nie dit as onsin afmaak dat sommige witkruisarende wel baie jong lammers sal vang nie, maar om te dink dat hulle almal dit doen, is nonsens.

Daar naby De Aar is ‘n paar witkruise wat hul nes in ‘n hoë sipresboom in die boer se lammerhok gemaak het. Dit was vir my baie komieklik om te sien hoe die manne die skaap in die lammerhok werk, terwyl die wyfie hoog en droog bo in die boom haar kuiken versorg. By navraag oor die amusante situasie het die boer en sy werkers vertel hoe die twee arende al jare lank daar woon en meestal waaiersterkmeerkaaie vang.

Op ‘n ander plek in die Kalahari maak die breëkoparende nes op Eskom se 400kV-kraglyn op Thys se plaas Suidsande. Die boerbokke en dorpers loop reg onder die nes en as mens bo by dit kom om die kuiken te ring, is die hele nesplatform met waaierstertmeerkatreste, stinkmuishondsterte en ‘n paar fisantvere besaai.

Daar is geen teken van plaasdierprooi nie. Thys reken die breëkoppe pas sy skape en boerbokke op. ‘n Ander boer van diep in die Kalahari het eendag vir my gesê toe ek navraag doen of die witkruise sy lammers vang, dat die Here klaar besluit het die lam moet gevang word en hy gaan nie inmeng nie want die arende moet ook iets te ete kry.

Nog ‘n boer van die Kalahari slag elke jaar ‘n klompie ou ooie net voor Kersfees vir sy aasvoëls want hy glo almal moet op Kersdag ‘n persentjie kry!

Tog is daar soms situasies waar ‘n paar arende bederf raak en lammers vang. My medewerkers van ouds het met groot sukses die arende afgeleer om lammers te vang met ‘n paar slim tegnieke wat vandag nog suksesvol gebruik word.
Dit is besonder bevredigend om te hoor dat ‘n boer sy arende ‘n bietjie wysheid geleer het en hulle weer op hul natuurlike prooi laat fokus.

Dit gebeur tog soms dat iemand knorrig raak en dan probeer om die arende van kant te maak, maar dit is die uitsondering.
Boere wat wel raad wil hê, kan gerus skakel of deur die Predasiebestuursforum se webtuiste, www.pmfsa.co.za raad aanvra. Elke arend wat op dié manier van uitwissing gered word, dra by tot ‘n gesonder landbou-omgewing en elke boer vind baat daarby.

Navrae: Gifinligtingsentrum, nesher@tiscali.co.za, 082-446-8946.

Gallery
AgriEco
Voting Poll
N