Northern Cape
Die winkel vat ‘n kans!!
11:47 (GMT+2), Fri , 13 February 2015
Northern Cape
 “Hierdie goed werk, glo my. Dit sal al die luise en dopluise doodmaak en dis nie giftig nie. Jan kan dit op enige vrugtebome en groente spuit en dit dadelik eet.” Dag na dag in Suid-Afrikaanse winkels word hierdie stelling as die evangelie aan tuiniers opgedis.

Hulle soek na plaagdoders om ‘n bepaalde plantplaag in die tuin te beheer en voor hulle hul oë kan uitvee daag die verkoopspersoon op en raak skielik ‘n “kundige”. Sodra Jan Publiek by die huis kom en die boksie oopmaak, besef hulle die verkoopspersoon het eintlik aan hulle ‘n swart kat in ‘n goiingsak verkoop want die botteltjie se fynskrif sê duidelik dat mens die lemoene of suurlemoene eers na 9 maande kan oes. Nou wat nou gemaak? Beste raad is om na die winkel terug te keer en die verkoopspersoon net daar en dan met die werklike evangelie te konfronteer, naamlik dat jy nie ‘n plaagbeheermiddel mag aanbeveel, verkoop of gebruik vir ‘n ander doel as wat die etiket aandui nie.

Hierdie probleem duik veral op wanneer tuiniers ‘n plaagdoder aankoop wat imidaklopried as aktiewe bestanddeel bevat. Imidaklopried is een van die jonger geslag plaagdoders wat sistemies werk. Dit beteken dat die middel om die boom se stam in die grond gegiet word en die boom neem dit dan self op sodat skadelike insekte daardeur beheer word. Dit is egter belangrik om kennis te neem dat imidaklopried-behandele sitrusbome se vrugte eers 270 dae na die laaste aanwending geoes mag word. Is dit ‘n probleem? Beslis nie, want as die etiket se aanduiding gevolg word, hoef mens slegs een aanwending van die middel te doen en die res van die seisoen is die sitrusboom op ‘n selfverdedigingsending. Weg is die dae van lelike goed soos paration spuit en weg is die dae van allerhande peste en plae wat die oes kan benadeel.

Die geheim lê soos altyd weereens in die etiket se aanduidings: dis veral van kritiese belang met die gebruik van sistemiese plaagdoders. Ons voordeel met sistemiese plaagdoders is dat ons nie meer woke van plaagdoders oor sommige plante soos rose, sipresse en sitrusbome hoef te spuit nie maar die middels baie teinkenspesifiek om elke boom in die grond aanwend. Ongelukkig is die onkundige raad van die verkoopsvloer af dikwels die doodsteek van belowende plaagdoders. Mense skrik as hulle hoor dat daar voorgeskrewe onttrekkingsperiodes vir sistemiese middels is, veral as die verkoopspersoneel dit nie so aangedui het nie. Dit is dan wanneer kopers sku raak vir sulke middels, sonder dat daar geldige redes daarvoor is.

Wat is die uitweg vir die netelige probleem? As ek by die plaagdoderrak kom, lees ek eers die doel van die plaagdoder en as dit reg klink vir my plaagprobleem, lees ek die etiket. Dan weet mens mos presies wat jy moet doen en die kans om weg te stap met ‘n kat in die sak is nul.

By die huis lees ek weer die etiket, maak my spuit deeglik skoon, te my handskoene en langmoue aan, sit my brilletjie op, meng die produk soos wat die etiket aandui en takel die suurlemoenboom met die regte mengsel wat ek in die grond giet – NADAT AL DIE VRUGTE WAT VAN DIE VORIGE SEISOEN OORGEBLY HET, AFGEPLUK IS! G’n luis of suigende gogga gaan my suurlemone oes nie, ek gaan dit self doen sodra die vrugte reg is. Groetnis!
Laastens: LEES ALTYD DIE ETIKET VOORDAT JY DIE PRODUK AANWEND EN AS JY VASHAAK, SKAKEL MY OP 082 446 8946.

Gallery
AgriEco
Voting Poll
N