Southern Cape & Karoo
Wildveiling op Albertinia omset R1.7 miljoen
10:37 (GMT+2), Wed , 09 September 2015
Southern Cape & Karoo
Die skaars wit waterbokke het die hoogste prys op die veiling gehaal. Foto: Verskaf
Altesaam R1.7 miljoen se wild is verlede Saterdag tydens ‘n wildveiling op ‘n plaas in die Albertinia-distrik verkoop.
 
Die veiling is aangebied deur wildtelers in die Wes-Kaap en is gehou op Nico, Sonette en Hertie Lerm se Lasarus Wildplaas. Naas die Lerms, wie ook die eienaars is van 777 Game Breeders, het sewe ander gasverkopers aan die veiling deelgeneem.
 
Sowat 500 mense het die veiling bygewoon waarvan 78 as kopers registreer het. Die hoogste prys van R130 000 stuk is behaal vir ‘n wit waterbokkoei en haar wit bulkalf. Die diere is deur Louis en Stefan du Plessis van Zorgfontein verkoop aan Werner Pretorius van Camelot Game Breeders van Delareyville.
 
Ander hoogste pryse wat per spesie behaal het, sluit in R28 000 vir ‘n koperspringbokram, R115 000 vir bontebokke en tussen R15 000 en R8 000 vir verskillende kleurvariante van springbokke en R4250 vir gewone springbokke. Elande en sebras is teen R8 000 stuk verkoop, en swartwildebeeste het R4500 gehaal. “Oor die algemeen het dit baie goed gegaan met die veiling en ons is tevrede,” sê Sonette Lerm. Op ‘n paar grysbokke na is al die boma-diere verkoop.
 
Hertie (13), die jongste afslaer in die land en wie vroeër vanjaar as die beste jong afslaer in Suid-Afrika en Namibië aangewys is, het drie lotte opgeveil en die prys van R28 000 vir die koperspringbokram behaal. Hertie het saam met Len Bornman vir afslaer Mike Killasey as roepers opgetree.
 
Kataloguswild soos buffels, swartwitpense, bastergemsbokke, goue gemsbokke, swartrooibokke, renosters, goue wildebeeste en Livingston-elande het nie verkoop het nie. Lerm meen ‘n moontlike voorval van tuberkulose in die Swellendamgebied kon ook ‘n rol gespeel het in kopers se traagheid.
 
Tydens die veiling is ‘n 50% aandeel in ‘n gouegemsbok-teelprojek in die Karoo aangebied. “Ons het baie navraag gehad, maar die aandeel is nie verkoop nie,” sê Lerm. “Enigiemand wat belangstel kan ons kontak.”
777 Game Breeders bied hul tweede produksieveiling op 2 April 2016 op Lasarus Wildplaas aan.
 
Kontak Nico by 082 443 1147 of Sonette by 082 448 3975.


Gallery
AgriEco
Voting Poll
N