Limpopo
Moenie selfterapie gebruik op huisdiere nie, dit is gevaarlik
11:28 (GMT+2), Fri , 02 October 2015
Limpopo
 Die medisynewêreld is vol van wonderkure: as mens ‘n tydskrif oopmaak is daar altyd iewers ‘n advertensie van een of ander nuwe wonderkuur wat alle kwale genees.
Dis gewoonlik natuurlik, organies, nie-chemies, nie-giftig en is deur ‘n onbekende “wetenskaplike” ontwikkel wat nie eers in die verste planete van die Melkweg bekend is nie.
Maak geen fout nie, daar is sonder twyfel natuurlike preparate wat sonder twyfel bewese mediese eienskappe besit en al vir eeue deur die mensdom vir terapie gebruik word. Maar die oomblik as iets te goed is om waar te wees, dan is dit te goed om waar te wees.
Sowat vyftien jaar gelede toe ek nog diep betrokke was met rehabilitasie van beseerde, verwese en vergiftigde wilde roofvoëls en soogdiere, het my chemiese instinkte begin opflikker toe daar ‘n nuwe gier posgevat het.
Dit was die idee om alles wat by ‘n rehabilitasiesentrum opdaag, ongeag die kondisie van die “pasiënt”, die arme dierasie aan essensiële olie en aromaterapie bloot te stel.
Weg was die idee van bekende en bewese medikasie met die ondersteuning van die plaaslike veearts, en in was selfvoldane terapie met al wat olie was. Dit was mos logies dat natuurlik goed is en chemies sleg is.
Wat my nog altyd stom slaan is die publiek se onkunde oor chemie: alles wat op die aarde en in werklikheid in die heelal bestaan is chemie, daar is niks wat nie chemie is nie.
Die mens met sy intellek het die vermoë ontwikkel om natuurlike chemiese middels uit die lewende organismes te ontgin sowel as uit die abiotiese deel van die aarde soos die minerale wat vir ons yster en ander essensiële elemente gee.
Verder is daar miljoene sintetiese molekules ontwikkel waarvan ‘n redelike groot persentasie as noodsaaklik vir die mens se voortbestaan is.
Die denke dat essensiële olies en aromaterapie nie skadelik kan wees vir mense of diere nie, het daardie tyd toe dit mode geword het in diere-rehabilitasie, baie van die arme wesens in die stof laat byt.
Die olies is niks anders as natuurlike chemiese stowwe nie, en wat mense nie besef nie, is dat sulke olies dikwels nie met diere versoenbaar is nie.
Die feit dat dit natuurlik is, sê niks nie. Daar is ander natuurlike stowwe soos muskarien, strignien en glikosiede wat in plante voorkom wat natuurlik en ook giftig is.
Om ‘n ou, bekende aanhaling weereens onder lesers se aandag te bring: Paracelsus het gesê dat alle middels giftig is, dat niks nie giftig is nie en dat die verskil tussen giftigheid en terapeutiese eienskappe bloot in die dosis lê.
Dit wil sê as jy die hond of kat iets injaag behoort jy te weet wat die terapeutiese dosis is.
My pleidooi aan die diereliefhebbers is die volgende: vergeet van selfterapie vir die huisdiere.
Dit is erg genoeg as die geliefkoosde kat iets oorkom en dan as Ma ietsie by die buurvrou kry wat aromaterapie is, is dit miskien die kat se einde.
Is ons taak as troeteldiereienaars nie juis om die diere die beste behandeling te gee wat hulle verdien nie? Dit is waarvoor die veeartse daar is.
Hulle is professionele mense wat kan diagnoseer en behandel teen haas elke kwaal wat die dier kan opdoen, en ja, daar sal gevalle wees waar natuurlike preparate die dier se kwaal kan genees maar dan is dit in die hande van professionele mense.
Dieregesondheidsmaatskappye is tans besig om ‘n hele aantal komplimentêre dieremedisyne te ondersoek en te registreer.
Dit is middels wat nie noodwendig deur veeartse voorgeskryf of verskaf hoef te word nie.
Die voordeel is dat sulke middels aan streng toetse onderwerp word en as dit op die rakke is, kan die publiek verseker wees dat dit veilig vir hul troeteldiere sal wees.
Dr Gerhard H Verdoorn, Gifinligtingsentrum, nesher@tiscali.co.za, 082 446 8946 en die SA Dieregesondheidsvereniging, www.saaha.co.za, (011) 805 2000.

Gallery
AgriEco
Voting Poll
N