Northern Cape
Insekskerpskutters in die tuin
15:38 (GMT+2), Fri , 20 November 2015
Northern Cape
Insekskerpskutters in die tuin
Dis somer, dis warm, dis droog op baie plekke maar op ander plekke is lewe in wording met alles wat leef en beef aan’t maats soek en pronk vir die wyfies. Streepswaeltjies bou kranig nes met modderbolletjies, vinke woel met palmblaarflenters (tot groot frustrasie van sommige tuiniers) en die paddas oefen koor dat die biesies bewe. Hier in my eie tuin is dit saans so ‘n koorsang dat mens televisie in lippetaal moet kyk. Die rietpaddatjies is skaars 30 mm lank maar hulle stemme is soos basuinklanke. Skurwepaddas raak krapperig in die keel en kraak-kraak by die fontein terwyl die reënpaddas nou en dan hul sopraanstemme in die tussenspel laat hoor. Graspaddas plons in die visdam rond en die rubberpaddas se stemme is soos botteltjies wat leegloop.

Saam met die somersimfonie is daar ook ander dierasies wat die tuin as blyplek ingeneem het. Die reuse slakke wals teen vyf meter per uur oor die grasperk terwyl die tuinslakke hul vegetartiese gewoontes op die varkore en Clivias opskerp. ‘n Span swartlyf plantluise is hard aan die werk om die glorie van die Dietes en Watsonias vinnig te kelder en ‘n haarwurm vreet naarstiglik aan die mooi baardprotea se laaste blom. Hier en daar sluip ‘n grasperkkriek rond wat tonnels onder die skamele gras grawe so asof hulle tolgeld wil vermy. Swartmiere het sekerlik ‘n mynlisensie vir sand by Departement Minerale Hulpbronne gekry want dit grawe en dolwe op haas elke denkbare plek op die oprit en om die huis se miere.

My klein stoortjie met plaagdoders lyk op sulke dae baie aanloklik veral as ek weer ‘n vet tuinslak van die Strelitzia moet aftrek. Voor ek egter die eerste botteltjie se etiket nader trek, kondig die twee bokmakieries aan dat hulle vanoggend die tuin besoek. Daar loop alreeds ses kwiksterte rond en die jan fiskaal sit bo-op die TV se antenna. In die wildevy hoor mens die janfrederik die twee kuikens kosgee en die mossies is ook met gesinsbeplanning besig. Buite teen die hoekmuur sit die groot reënspikkekopwyfie en suig sappe uit ‘n gogga van een of ander soort terwyl die wolfspinnekoppe in die bedding tussen die suurvye diens doen.
Dit is soms te maklik om suur te raak oor peste en plae wat in die tuin aan die plante en die grasperk vreet. Sulke werk die spuitkanne oortyd en die goggas val soos martelare voor die plaagdodernewels. My kommer is dat ons nie genoeg aan die natuur oorlaat nie en veral in die tuin te veel inmeng. Kyk maar saans as die paddas tydens kooroefening ook versnapering neem: min insekte staan ‘n kans om voor die aanslag weg te kom. Dis motte, ruspes, krieke, molkrieke, besies, selfs duisendpote en honderpote wat verorber word. Kom die son uit word die dagbrigade ontplooi en die kwikkies werk op miere en wurmpies. Die bokmakieries woel onder die torre en verwantes en die vleiloeries werk die slakke se gal. Jan Fiskaal laat geen sprinkaan of kriek ongestoord nie en die janfrederikke vang klein wurmpies wat kop uitsteep die grasperk.

Daardie peritroiede wat so effektief werk teen insekplae is ongelukkig ook uiters effektief teen paddas. As daar goudvissies in die visdam is, nog meer probleme as die spuitmengsel in die water sou beland. Dink dus baie mooi of dit regtig nodig is om die goggas met die chemie aan te vat of moet ons nie liewers die natuur se insekskerpskutters toelaat om hulle take te verrig nie? Dit kos niks, werk effektief en is in elk geval ‘n reuse aanwins vir die tuin. As die peste wel oorneem, gebruik dan die regte middel net daar waar dit nodig is. Groetnis van die paddas, spinnekoppe, voëls en ander skerpskutters.

Gallery
AgriEco
Voting Poll
N