Northern Cape
Byvoeding vir koeie en jong kalwers
09:27 (GMT+2), Tue , 08 December 2015
Northern Cape
Byvoeding vir koeie en jong kalwers
Tans gaan die landbougemeenskap van Suid-Afrika onder verskriklike ongunstige natuur-, sowel as politieke omstandighede gebuk. Nou, meer as ooit, is boere genoodsaak om presies te boer met die laagste moontlike insetkoste ten einde die hoogste moontlike inkomste te genereer.

Optimale produksie van die koeikudde is dus van uiterste belang. In vandag se boerdery is daar doodeenvoudig net nie meer plek vir sommige koeie om deur ander se prestasie gedra te word, om ‘n nostalgiese sensasie van sentimentele waarde te bevredig nie. In ander woorde, as sy nie kalf nie, moet sy reguit veiling toe of afgerond word en geslag word.
Voerkoste van beeste het net te hoog geraak om ‘n mooi koei, wat nie elke jaar kalf nie, op die plaas aan te hou. Dit is egter die boer of bestuurder se werk om vir die diere die regte gereedskap te gee om die “fabriek” optimaal te laat funksioneer. Hoewel voerkoste deesdae hoog is, kan sulke optimale resultate verkry word wat die voerkoste kan dek en steeds ‘n groter inkomste vir die boer kan genereer. Die regte voere moet net op die regte tye en in die regte hoeveelhede gegee word.

Byvoeding by dragtige koeie moet presies wees. Hoewel daar aan die koei se behoeftes voldoen moet word sodat haar liggaam vir die kalf die nodige nutriënte vir volkome en volmaakte ontwikkeling kan verskaf, kan die voer van te hoë energierantsoene, veral in die laaste twee tot drie maande voor kalwing, veroorsaak dat die kalf te veel groei. Hierdie praktyk het dan ernstige kalwingsprobleme tot gevolg. In baie gevalle kry die genetika van die bul die skuld. Hoewel daar wel ‘n sterk genetiese korrelasie met geboortegewig is, speel die voedingsbestuur van die koei ook ‘n baie belangrike rol.

Die meeste van die tyd is die koeie tydens die laatsomer, herfs en winter dragtig sodat hulle tydens die volgende lente kan kalf. Dit is dalk ‘n goeie praktyk om vir koeie genoegsame proteïenaanvulling te gee, sowel as genoeg energie vir onderhoud, om die ontwikkeling van die kalf te fasiliteer. Wanneer die koei egter tydens die laaste drie maande effens kondisie verloor, moet daar nie ekstra energie ingestoot word nie, want dit is dan wanneer die kalfprobleme ontstaan.

Tydens, en net na kalwing, kan die koei se kondisie tot ‘n liggaamskondisietelling van ongeveer 2.5 daal. Dit gebeur weens die behoeftes van die kalf tydens die laaste drie maande se groei en ontwikkeling, die stres van kalwing en die produksie van genoegsame hoë gehalte melk wat die kalf van die koei af nodig het. Tydens hierdie tydperk is dit nodig om die koeie op die beste beskikbare weiding te plaas met genoegsame hoë gehalte byvoeding. Daar is nou meer as een doelwit vir die koei. Sy moet genoeg melk produseer sodat die kalf so vinnig as moontlik sterk kan word en groei. Met die bies kry die kalf wel ‘n passiewe immuniteit van sy moeder af, maar dit hou nie vir altyd nie. Die kalf moet so gou as moontlik, so sterk as moontlik word. ’n Sterk kalf is ‘n gesonde kalf. Die ander doelwit is om die kondisie van die koei so gou as moontlik weer op standaard te kry sodat haar liggaam fisiologies reg kan wees om bul te vat, ten einde te verseker dat sy weer die volgende jaar kan kalf. ‘n Goeie produksielek met genoeg energie en proteïen, saam met goeie gehalte weiding, is dus van kardinale belang om hierdie twee doelwitte te bereik.

Aanvullende voer vir die kalwers, of te meer kruipvoer vir die kalwers, kan ook groot ekonomiese voordele tot gevolg hê wanneer dit reg aangewend word. Daar is wel gevare en mens moet baie versigtig wees om die kruipvoer reg te bestuur.

Die kruipvoer moet ook perfek geformuleer wees. Die gevare van kruipvoer kom na vore wanneer die voer nie reg geformuleer of gemeng is nie. Dit kan skade in die klein rumen van die kalfie veroorsaak wat die kalf se produktiwiteit vir die res van sy lewe kan belemmer. Die gebruik van kruipvoer kan ook swak moedereienskappe wegsteek omdat die voer vergoed daarvoor indien die koei tekort skiet. Wanneer kalwers van so koei in die kuddes teruggehou word, kan hierdie eienskappe in die kudde ingeteel word.

Daar is egter groot ekonomiese voordele ook wat die boer uit hierdie praktyke kan put. In verskeie studies en proewe is dit al bewys dat kalwers beter presteer ten opsigte van groei wanneer hulle kruipvoer ontvang as daarsonder. Kalwers is ook gewoonlik sterker en dus ook gesonder. Kalwers, wat kruipvoer ontvang, se rumen ontwikkel vinniger om byvoeding te kan hanteer en hulle pas dus makliker in situasies aan waar hulle moontlik verder gevoer gaan word. Dit verminder die waarskynlikheid dat skade aan die rumen aangerig word wanneer die kalwers dalk verder gevoer word. Kalwers, wat vinniger op voer aanpas, het ook ‘n voorsprong wanneer dit by groei in die voersituasies kom.

Die koei se melkproduksie piek binne ongeveer 90 dae, waarna dit geleidelik afneem. Die norm is om kalwers op 75 tot 90 dae-ouderdom te begin kruipvoer gee. Met goeie kruipvoerbestuur kan die kalwers so vroeg as 40 tot 50 dae-ouderdom kruipvoer begin vreet. Dit neem net die ekstra druk van die koei af, wat weer haar hele fisiologiese stelsel help om vir herbesetting voor te berei. Wanneer die kalf so klein bietjie vroeër kruipvoer begin vreet, kan dit dalk net ‘n effens hoër piek in melkproduksie verseker, wat sal beteken dat die koei mettertyd meer melk vir die kalf sal hê. Druk word ook vinniger van die koei afgeneem, wat daartoe lei dat die koei vinniger die regte kondisie vir herbesetting bereik. Kruipvoerpraktyke verhoog die herbesettingspersentasie binne ‘n kudde dramaties.

Die kalf begin gewoonlik om ongeveer 1% van sy liggaamsgewig as kruipvoer in te neem en dit kan ook later na 2% vermeerder. As ‘n goeie gemiddeld oor die tydperk, kan mens rofweg op ‘n gemiddeld van 1.6% van die kalf se liggaamsgewig per dag werk, wat gewoonlik op ongeveer 2.8 kg kruipvoer per kalf per dag uitwerk. Aangesien die jong kalf se rumen nog nie genoeg ontwikkel is om groot hoeveelhede grane en ruvoer te kan hanteer nie (inteendeel, groot hoeveelhede grane sal skadelik wees), word die kruipvoer gewoonlik met hoë vlakke van natuurlike proteïen geformuleer (alternatiewe en kunsmatige proteïenbronne kan ook nie doeltreffend deur die jong kalf se liggaam gebruik word nie).

Daar is wel gewoonlik ‘n verminderde graankomponent, asook ruvoer in die kruipvoer. Dit help die kalf se rumen met ontwikkeling ten opsigte van hierdie komponente. Namate die kalf ouer word, begin hy die energie- en proteïenkomponente al hoe beter gebruik.

Hoewel daar, soos met alles in die lewe, slaggate in die byvoeding van koeie en kalwers is, kan daar tog met goeie bestuur en die nodige beplanning, steeds ekonomies regverdigbare resultate uit hierdie praktyke gekry word.

Artikel geskryf deur:
Vin Marcantuono – Tegniese adviseur van Opti Feeds.

Sel +27(0)76 7917611. TEL +27 (0)18 632 4053. FAKS / FAX +27 (0) 18 632 3989

Foto’s verskaf deur:
Martyn van Aarde - Raap de Poort Simmentaler Stoet

Gallery
AgriEco
Voting Poll
N