Southern Cape & Karoo
Riglyne vir veeproduksie tydens droogte
13:54 (GMT+2), Tue , 26 January 2016
Southern Cape & Karoo
Beskikbare weidingsmateriaal op veld (natuurlike weiding) is baie min oor groot dele van die sentrale binneland en toestande vir ‘n verbetering van die swak weidingsituasie in die oorblywende deel van die somer en winter is ongunstig.

Beskikbare weidingsmateriaal op veld (natuurlike weiding) is baie min oor groot dele van die sentrale binneland en toestande vir ‘n verbetering van die swak weidingsituasie in die oorblywende deel van die somer en winter is ongunstig.

Dit is volgens prof. HO de Waal van die Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde van die Vrystaat Universiteit.

"Afgesien van karige weidingsmateriaal wat beskikbaar is, sal die min grondvog in die lente en vroeë somer ook ‘n negatiewe effek op veldproduksie en diere hê. Oeste is reeds nadelig beïnvloed en oesreste wat normaalweg as veevoer gebruik kon word, is nie meer geredelik beskikbaar nie," sê hy in 'n artikel waarin hy riglyne gee oor veeproduksie tydens droogte.

Die huidige situasie is benard, maar dit kan bestuur word en verskeie maatreëls kan help om onnodige vrektes te verhoed en finansiële verliese te verminder:

• Sorg dat die kontantvloei sover moontlik oordeelkundig gehandhaaf word.

• Beskerm die kern teeldiere. Die vroulike diere moet na die droogte weer inkomste genereer.

• Waar nog moontlik, maak strategies van aanvullende voeding op die veld gebruik.

• Verminder die getal diere wat van voerbronne op die plaas afhanklik is deur surplusdiere te bemark of tydelik van die veld te verwyder - in ‘n kraal of aangeplante weiding.

• Beperk diere se beweging deur hulle in klein kampies met koeltebome of ander beskutting te plaas.
• Verseker dat alle diere deurgaans toegang tot genoeg skoon drinkwater het.

• Skei die sterker en swakker diere om kompetisie by die voerbakke te verminder.

• Verhoed dat veral beeste vanweë swak voeding verhonger, verswak en gaan lê voordat hulle gevoer word.

• Moenie diere ad lib. oor lang periodes voer nie. Rantsoeneer voer volgens produksievlakke wat verlang word, byvoorbeeld oorlewing of onderhoud (handhawing van liggaamsmassa) of laktasie.

• Moenie voer mors deur dit op die grond uit te gooi nie – gebruik geskikte voerbakke of ou vervoerbande.
• Verskaf gerantsoeneerde hoeveelhede voer elke tweede of derde dag. Sodoende kry meeste diere genoeg kos om te vreet. Dit sal ook kompetisie by die voerbakke verminder.

• Wat kan gevoer word? Die basis vir herkouers is ruvoer, hetsy op die veld of in die krip. Grof gemaalde ruvoer word altyd beter benut (minder vermorsing) as in die lang vorm. Die energie-inhoud kan verhoog word met ‘n geskikte bron (bv. gemaalde mielies) en word dan gebalanseer met ‘n geskikte ru-proteïenbron. Die inname van minerale word ook gebalanseer volgens diere se behoefte.

• Voerkorrels is bloot gerieflik (vervoer, hantering, minder vermorsing), maar grofgemaalde ruvoer (en wat behoorlik gebalanseer is), kan goed in diere se behoeftes voldoen.

• Beperk die daaglikse inname van sout (NaCl) by skape op 5-10g en beeste 50-60g.

Die kernkudde
• Kuddes moet volgens ouderdom en produksiestatus groepeer word. Bepaal dragtigheid by beeste so gou moontlik na afloop van die huidige dekseisoen. By skape en bokke moet ooie geskandeer en meerlingstatus bepaal word, sodat hulle voeding spesifiek aangepas kan word.

• Benewens dragtigheid, moet die toestand van tande ook bepaal word, veral by die ouer koeie en ooie. Koeie wat dragtig is moet ten minste vir die volgende kalfseisoen tot speentyd nog goed kan wei. Slytbekke kan wel hul produksie in krale voltooi, maar dit sal teen ’n prys geskied.

• Stel ’n inventaris op van beskikbare veld en ander voerbronne. Die inligting is nodig om te bepaal hoeveel bekke aangehou kan word tot na die begin van die volgende somer.

• Verminder die getal diere wat van voerbronne op die plaas afhanklik is deur surplus diere te bemark of tydelik van die veld te verwyder. Let op die reproduksierekord en speengewigte van vroulike diere se nageslag. In elke ouderdomsgroep is daar minder produktiewe diere wat uitgeskot kan word.

• Die beginsel van “cut-your-losses” kom ter sprake en verdere uitgawes moet teen verwagte inkomste oor die kort tot medium termyn verdiskonteer word. Waak daarteen om jonger teeldiere van die hand te sit omdat hulle nou in ’n goeie kondisie en dragtig is en ’n premie beding kan word.

• Kry veeartsenykundige advies om moontlike wysigings aan die doseer en entprogramme aan te bring.

Vir meer inligting, kontak Gerhard Schutte van die Rooivleisprodusenteorganisasie by 012 349 1102.



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N