Southern Cape & Karoo
2016 Heidelberg-landbouskou
14:38 (GMT+2), Wed , 27 January 2016
Southern Cape & Karoo
Die Heidelberg-landbouskou sal vanjaar plaasvind tussen 10 en 13 Februarie. Besoekers kan uitsien na 'n behoorlike makietie en prettige feesvieringe.

Die Heidelberg-landbouskou sal vanjaar plaasvind tussen 10 en 13 Februarie. Besoekers kan uitsien na 'n behoorlike makietie en prettige feesvieringe.

Die verrigtinge skop af met die skoudans op 5 Februarie om19:00. Die tema is 'Diamonds are Forever' en daar is opwindende pryse vir die beste paartjie. Die kroning van die nuwe skoukoningin sal ook dan plaasvind. Kaartjies kos R150 en is beskikbaar by Julie: 084 823 9948.
 
'n Damesoggend word Donderdag 11 Februarie om 09:30 by die Human Willemse-saal gehou. Die sanger Louis Loock, voorheen deel van Romanz, sal die dames vermaak. Kaartjies teen R120 is beskikbaar by Maretha: 084 548 7149.

Beesskou

Jerseys van hoogstaande gehalte, afkomstig uit die distrik sal weer te sien wees. Die komitee gaan vanjaar veral konsentreer om die kinders te betrek, daarom 'n Jersey-miniskou wat baie gewild onder ouers en kinders is. Die verrigtinge en beoordeling begin Donderdag 11 Februarie om 09:00 en duur tot middagete. Vir meer inligting, besprekings en inskrywings, kontak vir Smiley by 082 921 0045.

Skaapskou

Die merino veld- en kuddeskou vind plaas op Vrydag 12 Februarie van 08:00 by die BKB-skaapring op Heidelberg se skouterrein. Klasse wissel in gewigte en ouderdomme en daar sal 'n ooi en 'n ram met die beste vag asook bouvorm gekies word. Daar sal ook 'n slaglamkompetisie Donderdag 11 Februarie, van 09:00 gehou word. Slaglammers sal op die hoef asook uitgeslagte karkas beoordeel word. Vyf wenners sal Vrydag aangekondig word en die karkasse sal daarna opgeveil word.
 
Vir inskrywings of navrae, skakel vir Pieter Uys by 084 516 6944 of Kobus Louw by 082 576 1699.

Perdeskou

Die perdeskou begin Woensdag 10 Februarie om 14:00 met die beoordeling van verskeie perderasse. Oud en jonk kan daagliks van 08:00 tot 18:00 gaan kyk hoe Walliese ponies en Hackney-, Fries-, Vlaam-, ope- en saalperde meeding.
 
Die hoogtepunt van die perdeskou sal op Saterdag plaasvind wanneer die kampioene aangekondig word. Die waspanne sal dan ook die geleentheid kry om hulle staal te wys en die alombekende FNB Tuinroete Hackney-streekkampioenskappe bereik sy hoogtepunt wanneer die groot kampioene aangewys word. Vier waspanne van agt word verwag. Vir meer inligting kontak Hans Jurie by 082 811 4954.

Vermaak

Die Steakhouse sal lafenis bied vir diegene wat iets lekkers soek om te drink en te eet. Dit is ook die ideale plek om saam met vriende te kuier en te dans. Hierdie jaar kan die jongspan uitsien na 'n mallemeule en speelarea vir die kleintjies saam met vele meer in en om die terrein. Woensdagaand 10 Februarie sal raakrugby aangebied word en 'n interskole toutrekkompetisie word Donderdagaand 11 Februarie gehou.

Die babakompetisie vind Saterdag 14 Februarie plaas. Ma's en pa's kan gerus hulle babas en kleuters inskryf. Nie net gaan die junior skoukoning en -koningin aangewys word nie, daar is groot pryse op die spel. Die program is op Heidelberg Western Cape se Facebook-blad beskikbaar.
 
Besoekers of navrae kan gerig word aan Vic Brand op 071 227 6987.


Gallery
AgriEco
Voting Poll
N