North West
Twee stelle Holsteintweelinge het 462 692 liter melk geproduseer
14:42 (GMT+2), Wed , 02 March 2016
North West
Wait and See Anna 53 – sy projekteer duidelik die breedte, krag en uier wat nodig is vir hoë produksie oor lang periodes, met tipe wat besliks ‘n rol gespeel het. Uier 95.F. Klas 94.

Twee stelle Holsteintweelinge van Wait and See Holsteins, Mortimer, Oos-Kaap, het meer as 100 000 liter melk elk oor 31 laktasies geproduseer. Sover vasgestel kan word, is dit ‘n wêreldrekord. Holstein Suid-Afrika en Holstein Internasionaal het bevestig dat hulle nie vergelykende data op rekord het nie.  

Die eerste paar om dié prestasie te behaal, was Wait and See Precious 123 (110 846 liter) oor sewe laktasies, en Wait and See Precious 124 (143 268 liter) oor nege laktasies. Precious 124 is dragtig van die hoë tipe Taurus bul, Vitality – geteel deur Wait and See – en verwag om in Maart 2016  vir die tiende keer te kalf.
Dié tweelinge was verwek deur die Amerikaanse bul, Forbidden. Hulle ouma het 114 114 liter in nege laktasies geproduseer. Sy was verwek deur die befaamde Kanadese bul, Rudolph.

Die tweede paar was Wait and See Anna 204 (106 455 liter) oor nege laktasies en Wait and See Anna 205 (102 123 liter) oor ses laktasies.

Hulle was verwek  deur die  Italiaanse bul, Mototo.   Wonderbaarlik het hulle moeder, Wait and See Anna 53, 117 208 liter melk oor nege laktasies geproduseer. Sy was verwek deur die Kanadese bul, Aerostar.  Die teler, John Sieberhagen, sê: “Dit is vanselfsprekend dat dié koeie goed versorg is. Die Anna-tweelinge is nege generasies ‘baie goed’ of beter. Precious 123 is ‘n vierde geslag uitstekend. Sy is gerugsteun deur sewe generasies ‘baie goed’ of beter, waarvan ses uitstekend is. Nietemin, deur die regte genetiese lyne te kombineer met spesiale klem op goeie uiers, bene en voete, met krag (sterker koeie) is nie onderhandelbaar nie. Goeie konformasie het beslis ‘n belangrike rol in die prestasie van dié koeie gespeel.”  

Sowat 48 Wait and See koeie het meer as 100 000 liter melk tot op datum geproduseer. Koeie ontvang gedeeltelik gemengde rantsoene. Hulle wei gedurende die dag en word saans gevoer. Hulle word drie keer per dag gemelk.

Vir meer besonderhede kontak John Sieberhagen  083 280 8369.



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N