Lowveld
Piesangbedryf moet lig loop vir Panama-siekte
11:26 (GMT+2), Thu , 07 April 2016
Lowveld

 Indien alle piesangkwekers in Suid-Afrika nie gesamentlik inkoop in die beheermaatreëls op plase nie, kan Panama-siekte, of sy dodelike boetie die Tropies Ras 4-swam (TR4), groot gevare vir die piesangbedryf in die land inhou. 
Een van die hoofonderwerpe in onlagse nuus, die TR4 het piesangprodusente van SA en Mosambiek bekommerd oor die beduidende effek wat dit op die bedryf kan hê. 
Prof. Altus Viljoen, plantkundige aan die Universiteit van Stellenbosch, sê dat hoewel TR4 uiters aggressief is, dit slegs in die noorde van Mosambiek voorkom, en dat die twee plase wat wel geaffekteer word, geen piesangs na SA uitvoer nie. “Geeneen van die plase in die suide van Mosambiek word deur Panama-siekte of TR4 geaffekteer nie,” sê hy. Hy voeg by dat daar geen wetenskaplike bewyse is van TR4, of enige ander vorm van die fungus wat Panama-siekte veroorsaak, met vrugte versprei nie. Hy voeg verder by dat die siekte wel in Kiepersol voorkom, asook die suide van Natal waar dit deur ‘n ander vorm van die swam, genaamd Subtropiese 
Ras 4, veroorsaak word. “Die plaaslike swam kan vernietigend wees en daarom is dit belangrik dat alle piesangprodusente die nodige voorsorg tref, sodat hulle plase nie met enige vorm van die swam besmet word nie. 
‘n Prominente produsent van Mosambiek, Charlie van Dyk sluit daarby aan en noem dat slegs streng kwarantynmaatreëls van elke piesangplaas en ander beskermingsmaatreëls die verspreiding daarvan kan voorkom. 
“Die swam kleef aan grond en water. Die piesangs wat uit Mosambiek ingevoer word, moet voldoen aan die invoerregulasies van die SA Departement van Landbou. Daar is PPECB-inspeksiepunte op die SA grensposte waar alle vragte geïnspekteer word voordat dit toegelaat word. Die verspreiding van die siekte kan hoofsaaklik bekamp word deur kwarantynbeheer by die plaashek met beheermaatreëls soos wat tans in Australië toegepas word,” sê Van Dyk. 
“Daar was reeds in die 90’s gebiede wat met Panama-siekte besmet is, maar deur ’n minder ernstige ras as die gevreesde TR4,” sê Van Dyk. In gebiede soos Hazyview wat erg hierdeur getref is, het kwekers hulle piesangplantasies oorgeskakel na ander gewasse soos makadamias en avokado’s. 
Alhoewel nie so aggressief soos die TR4-ras nie is die uiteinde dieselfde, dit neem net langer. 
Daar was nog nooit voldoende kwarantynmaatreëls toegepas in Suid-Afrika nie. Hierdie ras Panama-siekte kon dus al van Hazyview-plase na die Onderberg versprei het. 
Mosambiek, wat stroomaf van die meeste riviere in Suid-Afrika lê, kan dan ook hierdeur besmet word. Beide lande se siektes hou vir mekaar gevaar in en daarom moet dit eerder saam bestuur word. 
Die meeste piesangkwekers in Mosambiek is ook kwekers in Suid-Afrika en van hulle behoort ook aan die Piesangkwekersvereniging van Suid-Afrika. Dit is dus vir hulle net so belangrik dat hierdie vernietigende siekte bekamp word.

 



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N