North West
Die Noordwes-provinsie – nog pure plaas…
12:18 (GMT+2), Fri , 22 April 2016
North West
Voorwaar ‘n rare gesig in Rustenburg in Noordwes se besige strate maar vir Jan en Christelle Harmse gewis nie ‘n reis na nêrens nie... Trouens, die kinders word meer as eenmaal per week te perd by die skool besorg... Vervolg na bladsy 9

NOORDWES - ‘n Man met ‘n lang baard, sommer so lekker kaalvoet met sy hoed op sy kop en die leisels in die hand, vroulief hier langs hom (links voor?) op die bankie en ou Poon wat al te lekker drafstap dorp toe...

Ons praat hier van ‘n toneel wat herinner aan die vroeë negentienhonderds - niks later as so 1947 - dalk nog 1950 nie nê? Ja man, wat praat jy, hier van die middel vyftigers af is ‘n man nie maklik meer met die perdekar op pad dorp toe gesien nie - wat nog te sê as “vroutjie douwtjie” ook nog wou saam. Nee kyk, die wêreld staan darem nie stil nie nê...- “going forward” soos ‘n mens amper elke dag op veral ons nuusprogramme die politici hoor sê (wat dit ook al beteken...) 

Maar moenie glo nie, - as ‘n mens die plaaslewe, die boerdery, die koring wat krom staan in die wind, die geklingel van melkkanne by die agterdeur of die geklippetie-klop van perdehoewe op die stofpad in jou bloed het, wel, dan kan jy maar verskoon word as jy verkies om so nou en dan letterlik die skoene uit te skop, jy die sweep en die hoed sommer so met die een hand raakvat voordat die kombuisdeur toeklap en jy en ou Poon die stof uit die plaaspaadjie laat opslaan dorp toe... Dit terwyl die dorpskinders halflyf uit die blink motors hang, die Mall-vroutjies amper hul pakkies laat val en die mans jou fronsend agternakyk en die sigaretkooltjies helder gloei soos hulle diep-nakenkend daaraan suig om seker te maak dat hulle nie droom nie. 

“Nee oom”, lag Jan Harmse vriendelik toe ons hom en vroutjie Christelle verlede week op ‘n besige Noordwespad voorkeer om te hoor hoe dit gebeur dat ‘n toneel so reg uit die veertigs, vyftigers hom helder oordag in een van die Platinaprovinsie se besigste strate afspeel. “Nee oom, ek het darem ‘n kar, maar vandag is dit “trolliedag” (die naam van die perdewa waarmee Jan en Christelle vandag so ‘n dosyn of wat lusernbale aanry). “Skuus, maar julle kan seker nie regtig haastig wees nie nê, maar sal julle omgee as ons ‘n foto neem? Sal ou “Poon” nie skrik vir ons flits nie en sal hy nie agteroorspring en ‘n herrie in die verkeer veroorsaak nie?” vra ons versigtig. “Nee oom, “Edgar” sal nie skrik nie - hy is ‘n opregte Fries-hings en sal die ruskansie geniet terwyl ons gesels”. 

Jan en Christelle is op pad om die lusernbale by die ryskool waar hul dogter gereeld perdry, te gaan aflaai. Die perde, die plaas, lusern en al daai goed is diep in hul bloed. En nee wat, die stadsmense sal nie regtig koors ontwikkel nie - ons is darem nou al ‘n taamlik gereelde verskynsel in die stad se strate. Jan neem minstens ‘n paar keer per week sy seun en twee dogters met die perdekar skool toe - verskillende skole boonop, so “Edgar” is heeltemal “streetwise”. 

“Nee wat oom, ons is boeremense, lief vir die plaas, die diere, die reuk van vars-geploegde grond. Ons leef naby aan die aarde en probeer sommer net ons liefde vir die eenvoudige, opregte goed uitleef”. 

Maar moenie ‘n fout maak nie - tradisie in hierdie geval moet nie met ‘n gesukkel verwar word nie. Jan is die eienaar van sy eie motor-ingenieursonderneming, Christelle is huisvrou en ma van vier kinders - die laaste drie nog op skool. Daar is sommer ‘n gros vol perde by die huis en Jan spog met ‘n goeie versameling rytuie, spiders, kapkarretjies, koetse, noem maar op, perde is ‘n groot liefde en tradisie is ‘n wagwoord in die huis.

“Ons koop en verkoop lusern, voer en allerlei boederygoed en die perde is in uitstekende kondisie. Die laaste draai elke aand nadat hy seker gemaak het die kinders is lekker warm toegemaak, is by die perde om te kyk dat hulle goed versorg en veilig is. My perde leef soos konings en eet amper lekkerder as ek”, skerts Jan. 
Maar die perde en plaaslewe is nie die enigste kultuur wat in die Harmse-huishouding vertroetel word nie. Die vier Harmse-kinders van 22 tot 12 is almal lede van die Wakkerktrap Boereorkes en het verlede jaar tydens ‘n groot boereorkeskompetisie in die Kaap uitstekend presteer deur in die algehele derdeplek te eindig. Die jongste lid van die groep en die enigste seun van die gesin - (Coenraad - 12) - is by dieselfde geleentheid as die beste konsertinaspeler aangewys...



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N