North West
HiƩr tel elke druppel
12:27 (GMT+2), Fri , 22 April 2016
North West
Angus-bulle word op Holstein-koeie gebruik wat probleme ervaar om met KI beset te raak.

Flippie is reeds vir 15 jaar ‘n NWK-klant en maak van die volgende NWK-dienste gebruik: presisieboerdery, Meganisasie, en Finansiering. In November 2015, voor die aanvang van die reënseisoen, het Flippie die besluit geneem om te begin plant. Nadat 100 hektaar reeds geplant is, het hy sy besluit heroorweeg: Die planters is vir eers gebêre en die wag vir die eerste reëndruppels het begin. Toe die reën op 17 Desember uitsak, was die span én die grond op Bulfontein gereed. Al het hy besef dat die risiko weens die lae voginhoud van die grond geweldig hoog is, het Flippie in geloof aangehou sodat die plantproses betyds afgehandel kon word.

GESAAIDES

Die graanvertakking op Bulfontein en Putfontein beslaan 700 hektaar. Dit maak 70% van die boerdery uit en is gediversifiseer in mielies, sonneblom, sojabone, suikerbone en grondbone. Wisselbou word op van die lande toegepas waar mielies met sojabone, sonneblom of grondbone afgewissel word. Volgens Flippie is die voordeel van ‘n wisselboustelsel die vermindering van siektes wat van gewas na gewas oorgedra kan word en die stikstofbinding wat peulgewasse oordra na mielies in die volgende seisoen. As gevolg van die droogte, geweldige hitte en laat reën gaan grondbone en sojabone hierdie seisoen oorstaan. 

Met ‘n gemiddelde reënval van ongeveer 500 mm per jaar behaal Flippie ‘n gemiddelde opbrengs van 3,8 ton per hektaar met mielies en 1,8 ton per hektaar met sonneblom. Die mielielande wat kalk benodig, word bekalk en dan diep bewerk. Waar kalk nie nodig is nie, word geenbewerking toegepas, terwyl sonneblomlande met ‘n beitelploeg bewerk word. Vir Flippie maak geenbewerking ‘n groot verskil op die lande ten opsigte van die bewaring van grondvog en die bekamping van erosie. “Onderhoudskoste van implemente is ook drasties minder met geenbewerking. Dit moet egter van die begin af reg toegepas word en daar moet seker gemaak word dat die chemiese status van die grond reg is,” voeg hy by. 

As dit by kultivarkeuse kom, glo Flippie mens verander nie aan ‘n resep wat werk nie. “Die kultivars wat goed vaar, word jaarliks weer gebruik. Ek sal nuwes bybring om te sien of hulle toegepas kan word of nie, maar dit wat werk, bly,” sê hy. “Kultivars wat baie sukkel met blaarsiektes word uitgefaseer. Ek glo aan voorkomende optrede as dit by ‘n onkruidbeheerprogram kom,” voeg hy by.

VEEVERTAKKING

Buiten die graanvertakking sluit die gemengde boerdery op Bulfontein ook ‘n Angus-stoet en ‘n melkery in. Die melkery word gesamentlik bedryf deur Flippie, sy pa Daan en broer, Attie. 200 Holsteins-koeie word twee maal per dag gemelk om elke tweede dag 10 000 liter melk aan die Clover-aanleg op Lichtenburg te kan verskaf.

Flippie noem dat hoër voerpryse en laer melkpryse die winsgewendheid van dié bedryf kniehalter.

Hierdie Blou Bul-ondersteuner se oë blink as dit by sy Flipsta Angusstoet kom waarmee hy al 15 jaar boer, blink. Flippie noem dat hierdie beesras bekend vir sy vleisgehalte. Dit is vir hom uiters belangrik om kwaliteitdiere te teel en aan te koop. Hy koop waar hy goeie bulle kry. “Ek koop eers met die oog deur na die dier en sy ma te kyk en sal daarna na die syfers kyk as ek hou van hoe die bul lyk,” gesels hy. Hy neem jaarliks deel aan skoue om te verseker dat sy kudde op die regte standaard bly. Vanjaar het een van sy koeie, Flipsta Grid Lassie, die trofee vir die Interras Opperste Kampioen tydens die Bloemfonteinskou ingepalm. Daar word gekyk na alle aspekte – haarkleed, vroulikheid/manlikheid, wigvorm, kapasiteit en loopvermoë. Die diere word een maal per week besoek en entings word jaarliks in September teen heersende siektes soos pasteurella en knopsiekte toegedien. Om die kudde te versterk, word embriospoeling en KI gedoen.

Die Noordwes Angusklubveilings vind in Oktober op Lichtenburg plaas en vanjaar het die klub 40 bulle en 60 vroulike diere op die veiling verkoop en só sy kudde na 100 diere verminder met die gevolg dat sy diere genoeg weiding gehad het tydens die droogte. Op Bulfontein is daar slegs 60 hektaar aangeplante weiding vir die bulle en speenkalwers, terwyl die ander plaas, Putfontein se vleiweiding genoeg voeding verskaf vir somer- en winterweiding. Winterlek word tot en met die eerste reën gevoer en somerlek word ook voorsien. Die bulle kry ook voorafuitgewerkte rantsoene om die regte groei te verseker en hulle nie oorvet te maak nie.

Daar is 300 ooie in sy vleismerinokudde en 40 ramme word jaarliks verkoop. Weens die stowwerige omstandighede word skape veral teen pasteurella en bloutong ingeënt. 

ALGEMEEN

Flippie noem dat hy nooit ‘n ander beroep oorweeg het nie. “Boerdery is in my bloed omdat ek op ‘n plaas grootgeword het,” gesels hy. Na die voltooiing van sy matriekjaar aan Hoërskool Coligny en sy studies aan die Potchefstroomse Landboukollege het hy vir ‘n jaar lank in Amerika ondervinding gaan opdoen op melkplase in Florida en Arizona. Vir hom is die beste deel van “boer wees” die feit dat jy jou eie baas is en die grootste gedeelte van die dag in die buitelig kan spandeer. As dit by die minder aangename deel kom, is administratiewe take beslis bo-aan die lys is, maar werkskontrakte en rekordhouding moet op datum gehou word. Hy het vier voltydse werkers in diens wat help met die boerderybedrywighede en glo dat lojaliteit tussen werkgewer en werknemer baie belangrik is. 

Dié musikale produsent wil in die toekoms minder op sy stoet en meer op die kommersiële kudde fokus. Sy wens vir landbou in Suid-Afrika is dat jong boere hul regmatige plek in die land sal inneem en volstaan. En as hy vir beginnerboere ‘n stukkie raad kan gee: “Vra raad by produsente met ondervinding en onthou, sukses in ? boerdery kom as ‘n produsent sy hand op die boerdery hou.”

Flippie is die president van die Lichtenburg Skou en is reeds besig met die planne vir die eeufeesviering wat in 2017 plaasvind. Ongeveer 1 500 beeste word op dié skou verwag aangesien die Simmentaler Nasionale Kampioenskappe ook tydens die geleentheid sal plaasvind. 



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N