North West
PASOP – ROT!!
08:47 (GMT+2), Thu , 19 May 2016
North West
Gebruik slegs geregistreerde knaagdierdoders: kyk op die CropLife SA webtuiste onder http://www.croplife.co.za/images/croplife/remedies/PesticidesFeb2016.pdf vir al die geregistreerde knaagdierdoders.

Die onlangse ontdekking van builepes teenligaampies in die karkas van ‘n rot in die ooste van Johannesburg het behoorlik die wenkbroue laat lig. Vir jare reeds waarsku ons dat die knaagdierbevolking in stedelike gebiede aan die toeneem is en dat dit ‘n groot gevaar vir mense inhou. Builepes word deur die anaerobiese bakterium Yersinia pestis veroorsaak. Die draer is vlooie wat op rotte leef en onmiddelik kan mens die sommetjie maak dat waar daar onbeheerde rotbevolkings is, is daar ‘n moontlikheid dat builepes in die omgewing is. 

Weens swak sanitasie en higiëne in stedelike gebiede het dit in ‘n rotparadys ontaard. Die rommel wat opgaar, afvalkos en staande water skep vir rotte ‘n welkome tuiste waar hulle letterlik soos vlieë aanteel. Een rotwyfie se nageslag mag na een jaar meer as 3,000 indiwidue wees en dit dui aan hoe suksesvol die rot as organisme is. Die roofvoëls en roofdiere wat op hulle jag maak is bloot nie genoeg om die rotbevolking te beheer nie. Wanneer knaagdierbeheer met knaagdierdoders toegepas word is daar ook ‘n moontlikheid dat sommige knaagdierdoders die uile en ander roofvoëls mag vergiftig. 

Een van die nadele van knaagdierbeheer is die onverskillige manier waarop huiseienaars die knaagdierdoders aanwend. Daar is etlike honderde gevalle van vergiftiging van honde en selfs kleuters elke jaar wat toegang tot knaagdierdoders verkry omdat dit oop en bloot uitgeplaas is. Ongeag watter handelsmerk knaagdierdoder aangewend word, moet dit altyd in ‘n geskikte lokaashouer aangewend word. Sulke houers word by kleinhandelaars en kooperasies verkoop en hou vir jare al word dit buitenshuis gebruik. Enige lokaas, of dit graan, wasblokkies of pasta is wat oop en bloot uitgeplaas word, gaan iets anders as rotte vergiftig! 

Daar bestaan wanopvattings oor die omgewingsversoenbaarheid van knaagdierdoders. Een van die grootste wanopvattings is dat sommige knaagdierdoders veilig vir troeteldiere is. Dis totale onsin! Al die produkte is giftig vir soogdiere en as ‘n hond enige lokaas inkry is die kans om ernstig vergiftig te word, baie goed. Selfs kinders wat lokaas eet word ernstig vergiftig. CropLife Suid-Afrika raai huiseienaars aan om nooit enige lokaas sonder ‘n lokaashouer te gebruik nie. Dit beskerm honde en kinders teen die knaagdierdoders en die rotte sal steeds die lokaas opspoor en dit vreet. Wat ook belangrik is, is om die dooie rotte op die vierde dag na die eerste aanwending op te tel en weg te gooi. Dit verhoed dat honde en selfs uile vergiftig raak. 

‘n Ander fout wat huiseienaars maak is om te dink dat een aanwending van die knaagdierdoder die rotbevolking onder beheer gaan bring. Wat wel gebeur is dat die eerste aanwending die kernbevolking uitdun maar dat die bevolking vinnig deur die omliggende rotbevolking aangevul word. Knaagdierdoders behoort in siklusse aangewend te word juis om die hele bevolking uit te wis. Plaas elke vierde dag die produk in die lokaashouer vir sestien dae lank. Wag dan veertien dae en doen weer ‘n aanwending vir sestien dae lank. Dit behoort die rotbevolking uit wis waarna monitering nodig is om te bepaal wanneer die bevolking weer aktief raak. 

Dr Gerhard H Verdoorn, CropLife Suid-Afrika www.croplife.co.za, 011-805-2000



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N