Northern Cape
Upington kry blinknuwe wynproelokaal vir ORC
10:29 (GMT+2), Thu , 19 May 2016
Northern Cape
Upington kry blinknuwe wynproelokaal vir ORC

UPINGTON: ’n Nuwe hoofstuk in die Noord-Kaapse wynbedryf  is op 21 Maart met die opening van Orange River Cellars se blinknuwe wynproelokaal  ingelui.

 Bouwerk aan hierdie lokaal in Schröderstraat sal eersdaags afgehandel wees, waarna Orange River Cellars dan sy plek sal inneem as ’n volwaardige speler in die dinamiese Suid-Afrikaanse wyntoerismebedryf.
Volgens Koos Visser, bemarkingsbestuurder van Orange River Cellars, het die huidige proelokaal by die wynkelder in Industriaweg te klein geraak, en boonop is besoekers nie geneë om buite die dorpkern te ry om wyn te proe nie.

“Die nuwe lokaal vorm deel van Orange River Cellars se doelstelling om ons produk nader aan die verbruiker te bring,” sê Visser. “Dit het begin met nuwe etikette asook ’n doelgerigte poging om ons wyne se profiel deur middel van advertensies, promosies en sigbaarheid in nasionale winkels te lig.

“Met ’n nuwe proelokaal, geleë binne-in die dorp en maklik bereikbaar sien ons daarna uit om aan die duisende toeriste wat Upington aandoen, asook ons plaaslike inwoners, toegang te gee tot ’n wynproe-ervaring van internasionale gehalte.”

Die persoon wat verantwoordelik sal wees vir die dag-tot-dag bestuur van die Orange River Cellars-wyn-proelokaal is Wendy Scott, ’n ervare wyntoerismespesialis wat voorheen gewerk het by Morgenster Wyn-en-olyf-landgoed op Somerset-Wes, een van die hoogs-aangeskrewe wynplase in die Stellenbosch se wynstreek. Sy word bygestaan deur wynproe-assistente Maria Botha en Elmarie Carstens asook verkope-assistent, Behandré Swartz.

Die nuwe proelokaal bevat twee ruim silindriese toonbanke, wat elk deur ’n wynproe-assistent beman sal word. Die volledige reeks Orange River Cellars-wyne sal te proe aangebied word en almal sal genoegsame inligting oor die verskeidenheid wyne en die Noord-Kaap-streek se toerisme aangeleenthede ontvang.
Onder die lokaal word ’n bestaande leë swembad gebruik as stoorplek vir al die wynvoorraad. Besoekers kan verseker wees dat proewyne ook te koop aangebied sal word.

’n Buite-area sal besoekers die geleentheid gee om rustig uit te span, en daar sal ook ’n area wees waar kinders kan speel terwyl ma en pa hul wynkennis verbreed. .

“Vandag se besoeker wil nie net wyne proe, ’n paar bottels koop en dan weer ry na die volgende bestemming nie,” vertel Wendy. “Hulle soek ’n ervaring, dus word baie moeite gedoen om ons lokaal werklik aantreklik te maak met onder meer groot muurversierings wat die landskap van die streek uitbeeld en ’n goeie, hoë gehalte virtuele video. Boonop sal die wynproe-ervaring aangevul word met heerlike peuselhappies bestaande uit verskeie streekskosse.

Scott meen dat Orange River Cellars se moderne wynlokaal ’n bate vir beide die dorp en streek gaan wees. “Navorsing toon dat ’n plaaslike wynbedryf vir enige streek ’n besliste toerismevoordeel is,” sê sy. “Met hierdie nuwe lokaal sal Orange River Cellars help om die Noord-Kaap verder te vestig as een van Suid-Afrika se mees vooraanstaande wynstreke, en vir mense nóg ’n rede bied om die pragtige streek te besoek. Die lokaal sal ook ’n inspuiting vir die plaaslike toerisme-bedryf wees, dus kan almal uitsien na  die opening binnekort.”

Wynverkope en geskenke aan die publiek en wynproe-gesellighede vind reeds sedert 21 Maart  vanuit die nuwe lokaal plaas. Verkope by die winkel op Upington-lughawe gaan steeds voort en groothandelaars kan steeds hul wyn by Orange River Cellars se afsetpunt in Industriaweg aanskaf.



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N