Lowveld
Macadamia-pryse beter vanjaar
12:52 (GMT+2), Wed , 01 June 2016
Lowveld

Barry Christie, bedryfshoof vir macadamias by die Suid-Afrikaaanse Subtropiese Kwekersvereniging het bevestig dat vanjaar se amptelike opgedateerde oesskatting 39 000 ton is (NID), sowat 15 persent laer as verlede jaar. 
Hy sê daar is egter bekommernis dat ons met die volgende ronde van oesskatting ‘n verdere afwaartse aanpassing sal sien. Hy het ook gereageer op onlangse mediaberigte dat die neute as gevolg van die droogte kleiner is met dikker doppe, wat dus tot laer uitkraak-persentasies lei. 
Die landboujoernalis, Vida Booysen, skryf dat die prys van macadamianeute na verwagting vanjaar rekordvlakke kan beleef. 
Suid-Afrika is die wêreld se grootste macadamia-produsent, maar weens die droogte sal die oes vanjaar sowat 10 persent kleiner as verlede jaar wees - en 20 persent kleiner as die verwagte oes wat vir vanjaar voorspel is. 
In Suid-Afrika word macadamianeute veral in Limpopo, Mpumalanga en aan die kus van KwaZulu-Natal verbou, terwyl buurlande soos Swaziland en Malawi ook die neute produseer. Droogte het veral in Suid-Afrika en Malawi die produksie geknou.
“Die uitwerking van die droogte op ons oes sal tot ’n wêreldwye skaarste lei, selfs al is produksie elders ter wêreld op normale vlakke,” sê Alex Whyte, verkoopsbestuurder van Green Farms Nut Company, die land se oudste verwerker en bemarker van macadamias. Hy sê die aanvraag uit China het die afgelope klompie jaar aansienlik gestyg. “China is Suid-Afrika se grootste mark en hulle dring aan op hoër gehalte as ooit tevore, spesifiek groter neute in die dop. “Hoewel die strenger vereistes plaaslike produsente se opsies vir uitvoer na China beperk, beteken dit ook dat indien ons die regte gehalte lewer, ons die prys kan bepaal, verduidelik Whyte. “Die uitwerking van die droogte beteken wel dat die neute kleiner sal wees as wat China wil hê, maar daar is in die res van die wêreld ’n goeie aanvraag sodat boere steeds ’n goeie prys vir die kleiner uitgedopte neute sal ontvang.” 
Hy verwag rekordpryse vir die 2016-seisoen danksy die volgehoue goeie aanvraag na dié proteïenryke neute, wat danksy hul mono-onversadigde vetsure gewilder raak. 
“Wat ons nou as ’n bedryf moet doen, terwyl ons vooruitsigte so goed lyk, is om te beplan wat sal gebeur oor ’n paar jaar wanneer die droogte gebreek is en ons dalk skielik met ’n oorvoorsiene mark sit.” Hy wys daarop dat ongeag die droogte, die deurlopende aanplanting van macadamiabome Suid-Afrikaanse produksie teen 2020 sal laat verdubbel. Dit beteken dat die bedryf oor die volgende aantal jaar sy markte moet uitbrei. 
“As die droogte breek, sal die aantal bome wat gereed is om te produseer, ons dadelik in ’n posisie van oorvoorsiening plaas en pryse kan val. Ons moet nou al as bedryf saam beplan hoe ons dié probleem gaan aanpak.” 
Die mening van Walter Giuricich, voorsitter van Samac is egter dat ‘n tekort aan neute uit Suid-Afrika nie noodwendig ‘n prysverhoging tot gevolg sal hê nie. Dit is omdat die oes uit Australië groter lyk as wat aanvanklik geskat is. 
Hier word ‘n oes van 50 000 ton NID met ongeveer 1,5 persent kernvog verwag, wat net mooi die gaping wat hier gelaat word, sal kan vul.

 



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N