Lowveld
Pionierboer deel verhale van sy loopbaan
13:09 (GMT+2), Wed , 01 June 2016
Lowveld
Jan Lourens in later jare.

Jan Lourens, pionierboer van die Onderberg, se eie vertelling van sy loopbaan in die landbousake en veral die suikerbedryf lees soos ‘n vervolgverhaal. Dit is een van die mees boeiende en onderhoudende vertellings oor die ontwikkeling van die landbou in die Onderberg in Hans Bornman se onlangse boek: Mpumalanga Rietkwekersvereniging - Die Eerste Vyftig Jaar. Die boek bevat ondermeer ‘n reeks herinneringskrifte van boere wat hier ‘n vestigingsrol gespeel het.
Hierdie is die eerste in ‘n reeks van dié vertelling in Lourens se eie woorde. Die boek is beskikbaar by die Mpumalanga Rietkwekersvereniging se kantoor op Malalane:
My pa het op die plaas Hebron, naby Kiepersol, met beeste geboer. Ons naaste dorp, met ‘n hospitaal, was Sabie, waar ek gebore is. 
Ooskuskoors het in die 1930’s op Hermansburg en Rusplaas, Witrivier, uitgebreek en veeartseny het al die beeste in die gebied doodgeskiet. Ons het 10 sjielings per kop gekry en daarmee het my pa ‘n vragmotor gekoop en vir TGME en Glynn’s Lydenburg vervoerdiens gedoen. Hy is in die tydperk oorlede. 
My moeder is op 37 jaar oorlede en my ouma, woonagtig op Chrissiesmeer, het my grootgemaak. Ek het op Chrissiesmeer skool begin, later op Sabie gematrikuleer en daarna aan die Witbank Tegniese Kollege studeer. 
My eerste betrekking was by die Amcor-staalfabriek waar ek in die laboratorium gewerk het. Daarna is ek in diens van die Victoria & Transvaal Power Company. Toe Eskom alle krag verspreiders in Suid-Afrika oorgeneem het, is ek soontoe na Eskom se kontrolesentrum op Brakpan. Hier het opgeleide ingenieurs alle beheer gehad. Ouens soos ek moes streng volgens instruksies werk.
Ene Johns was die inwonende ingenieur. Ek en hy het goed met mekaar oor die weg gekom. Johns het van Liverpool gekom en wou reëlings tref dat ek verder in Engeland studeer. Ek sou by sy ou maatskappy gaan werk en hulle sou my help om ingenieurswese aan een van die universiteite daar te studeer. 
Op daardie stadium was my verhouding met Barbara Tecklenburg al stewig aan die gang. Toe ek vir haar sê dat ek moontlik vir vyf jaar Engeland toe gaan vir verdere studie, het sy gesê dit sal nie werk nie. Ek sou dan nooit weer terug kom nie. 
Dit was die einde van Engeland. Barbara Tecklenburg se familie is een van die pionierfamilies van die Laeveld. Haar mense was al kort na die ontdekking van goud in die De Kaap Vallei. Hulle het in Januarie 1887 tesame met die Knapp- en Dehrmann- families na Barberton gekom.
Johns het my meegedeel dat die hoof van die kontrolesentrum ‘n onderhoud met my wil voer oor my posisie en of ek as ‘n kontrole-ingenieur sal inpas. 
Hy het my kom sien en toe ek hom vertel dat ek slegs 21 jaar oud is, het hy die onderhoud net daar beëindig en gesê ons praat weer wanneer ek 24 jaar oud is. Ek het toe besluit dit is tyd om aan te beweeg.
‘n Oom van my het aangebied om vir my studie aan die universiteit te betaal. Ek het by die Natalse Universiteit gaan inskryf. Ongelukkig het my oom kort daarna al sy geld in ‘n saketransaksie verloor en moes hy sy plaas verkoop om skuld te delg. Dit was die einde van my universiteitsloopbaan.
Ek was ondermeer lid van die universiteit se atletiekspan wat in 1950 aan die jaarlikse Dalrymple-byeenkoms op Stellenbosch deelgeneem het. 
Dit het baie gereën en ek moes op’n nat veld verspring maar wen toe die kampioenskap. Blackie Swart, toe minister van justisie, het my medalje aan my oorhandig. Swart het dr. EG Jansen, na sy dood in 1960, opgevolg as goewerneur-generaal en het op 31 Mei 1961 die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika geword.
Kort daarna het ‘n Amerikaanse atletiekspan deur die land gereis en ‘n Springbokspan, uit Noord-Transvaal en die 12 Suid-Afrikaanse Universiteite, moes vir ‘n toets teen die Amerikaners gekies word. Ek is vir die Springbokspan gekies saam met Neville Price, die Statebondkampioen en -rekordhouer en Dennis Hazeljager, die Suid-Afrikaanse kampioen. Toe wen ek Price en Hazeljager en kom tweede, net kort agter die Amerikaanse wenner.
Die jaar daarna was die Olimpiade in Helsinki. Op daardie stadium was ek van 
die voorste verspringers in die land en uitdunne vir die Olimpiade sou in Kaapstad gehou word. 
Ongelukkig het dit saamgeval met my troudatum. Al die reëlings vir die troue was reeds getref en ek moes ‘n keuse maak - nodeloos om te sê, ek is nie na die Olimpiade in Helsinki nie.
Na my tyd op universiteit het ek vir First Electric, ‘n groot maatskappy wat transformators en elektriese motors in Germiston gemaak het, gaan werk. Barbara se pa, Ernest Tecklenburg, en sy vennoot, Joe Bresky, het die slagterye op Komatipoort. Ook die Komati Service Station. 
Na ons troue het Ernest Tecklenburg my kom haal om die garage te koop. Ek was van mening dat met my tegniese agtergrond ek ‘n sukses van die garage sou maak. Ek het ‘n nuwe gebou opgesit maar het nie genoeg geld vir dak gehad nie. 
Ek verwed tien pond op Melisia Pride, wat die Durban July gewen het, en met die prysgeld van £150 kon ek die dak betaal. Die dak is tot vandag nog in gebruik.

 



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N