North West
Moeder natuur knor vir jakkalse
14:42 (GMT+2), Mon , 06 June 2016
North West
Moeder natuur knor vir jakkalse

Die natuur werk in haar eie siklusse en eie tyd. Oor die millennia heen het spesies gekom en spesies gegaan.

Ons Homo sapiens is maar ‘n redelike nuwe toevoeging tot die aarde en ons leer nog elke dag van die wêreld en sy dinge. Een waaroor ons geen twyfel moet hê nie is dat die mens altyd in konflik met ander spesies is en soms aan die kortste ent trek, veral as dit by sommige roofdiere kom. Ons het die aard se leeus en tiers al feitlik uitgewis maar die nimlike jakkals is ons een voor. 

Veeboere regoor Suid-Afrika is dit eens dat jakkalse se getalle die afgelope twee dekade ernstig toegeneem het. Waar daar voorheen geen probleme met kleinveepredasie deur jakkalse was nie is dit deesdae ‘n oorlog amper so fel soos die huidige een in die Midde-Ooste. Die skote klap en die gifbolle rol maar jakkals se kind gee nie bes nie. 

Die Predasiebestuursforum of PMF soos dit algemeen bekend staan, is hard aan die werk om boere met raad en daad by te staan om predasie effektief te bestuur. Niel Viljoen van die Nasionale Wolkwekersvereniging gee opleiding aan lede van die NWKV oor predasiebestuur en dit werk baie goed sodat predasie met tot 90% afneem. Dit is egter nou amper ‘n feit dat Moeder Natuur ook sonder ons medewete inklim en die jakkalsbevolking tot orde begin roep. 

Ek het onlangs berig ontvang van Mnr Louis Meaker naby Addo in die Oos-Kaap waar hy ‘n brandsiekjakkals afgeneem het. Die dierasie lyk half bek-af met sy swart gewaad sonder die bekende rooi pels en dit is duidelik dat sy vetjies ook weggesmelt het. Die PMF het toe deur die media die boere versoek om inligting deur te stuur as hulle elders ook jakkalse met brandsiekte gewaar. Daar was verskeie verslae uit feitlik alle provinsies gewees, behalwe Gauteng. In Limpopo waar ekself sulke brandsiekjakkalse waargeneem het, is daar onder andere by Alldays amper 80% van die jakkalse wat brandsiekte het terwyl die Laeveld se jakkalse tussen Tzaneen en Phalaborwa amper uitgevrek het van brandsiekte. Uit die Noord-Kaap naby Barkley-Wes rapporteer die manne ernstige brandsiekte onder die jakkalse en as mens die foto’s sien voel jy jammer vir die dierasies. Hulle lyk erg met swart korse oor hulle lywe en dit lyk of hulle uit die depressiejare kom, so maer is hulle. 

Is brandsiekte dalk die jakkalsbevolking se Moses? Ons weet nie want dit is te vroeg om te sê of die getalle wel gaan afneem, maar aanduidings is dat dit getalle wel in sommige distrikte afgeneem het. Die natuur het meganismes om spesies se bevolkings te bestuur en dit mag dalk net wees dat die brandsiektemyte hierdie bestuursmeganisme vir jakkalse is. Dassies is bekend daarvoor dat hulle geweldig toeneem en dan slaan ‘n virus die bevolking plat. 

As lesers van brandsiekjakkalse weet of self gesien het, sal ons dit waardeer as sulke inligting aan die Predasiebestuursforum deurgestuur kan word: skakel op die webtuiste in www.pmfsa.co.za en stuur info deur of skakel my direk op 082-446-8946. 



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N