Northern Cape
NAMPO: Grootste landbouskou in die wêreld!
15:10 (GMT+2), Mon , 06 June 2016
Northern Cape
Frikkie Kruger en sy vrou, Anet van Rustenburg kuier tussen die stalletjies by Nampo.

Bothaville - Graan SA se 50ste NAMPO Oesdag het te midde van stram landboutoestande meer as een rekord laat spat.

Dié vierdag-handelskou wat naby Bothaville gehou is, is deur ‘n rekord 75 116 mense bygewoon terwyl ‘n totaal van 685 uitstallers deelgeneem het – die meeste nog.

Die top-bywoningsyfer het alle verwagtinge oortref en positiewe terugvoer van uitstallers het bevestig dat hulle goeie besigheid gedoen het. Ideale weerstoestande het ongetwyfeld bygedra tot die uiters suksesvolle 50ste Oesdag wat aangebied is.

Vergeleke met voorverlede jaar se 399 ligte vliegtuie en helikopters wat oor die vier dae op NAMPO Park geland het, het die getal vanjaar op 448 te staan gekom. Die vliegveld word deur uitstallers, besoekersgroepe, private vlieëniers asook landbouprodusente gebruik.

Die gladde vloei van besoekers deur die hekke ten spyte van die groot bywoning was opmerklik ná ‘n elektroniese toegangstelsel verlede jaar ingestel is. ‘n Meer egalige verspreiding van besoekers oor die vier dae het voorgekom. NAMPO 2016 het weer eens bewys NAMPO Park se fasiliteite leen hom daartoe om ‘n groot getal besoekers te hanteer. Positiewe kommentaar is ontvang oor die gehalte van uitstallers, die goeie en skoon toestand van die terrein en toiletgeriewe en die rustige atmosfeer en positiewe gemoed wat deurgaans geheers het.

“Die NAMPO Oesdag het oor die afgelope halfeeu ontwikkel tot ‘n handelsmerk wat moderne landbou in Suid-Afrika akkuraat uitbeeld. Dit spreek tot die algemene publiek as verbruikers van ons landbouprodukte; dit spreek tot alle produsente in ons land; dit spreek tot besluitnemers in regeringskringe en die bedryf; dit spreek selfs tot die internasionale arena en die groeiende belangstelling uit die buiteland bevestig dit,” het Cobus van Coller, Oesdagvoorsitter, gesê.

Volgens Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, haal hy sy hoed af vir Suid-Afrikaanse landbouprodusente se aptyt vir risiko. “Ten spyte van moeilike omstandighede sien produsente steeds kans om in die bedryf te investeer. Hulle het nie net NAMPO toe gekom om te kyk nie, maar ook om oordeelkundige aankope te kom doen. Hulle gee hoop vir ons mense.”

‘n Ander aspek wat hy positief ervaar het, is die opgewondenheid onder gaste van Graan SA wat die Oesdag vir die eerste keer besoek het. “Senior mense in die strukture van landbouverwante besighede het by NAMPO ‘n prentjie kom kry oor die omvang en diepte van die bedryf. Hulle terugvoer was sonder uitsondering oorweldigend positief oor die beeld van ‘n mededingende, tegnologiese gevorderde bedryf,” het hy gesê.

Graan SA het tydens ‘n spesiale funksie erkenning gegee aan uitstallers, vrywilligers, landbouleierskap en personeel se bydrae tot die NAMPO Oesdag oor die afgelope vyf dekades sedert 1967. Spesiale erkenning is verleen aan sewe van die 1967-Oesdag se agt uitstallers wat vandag nog uitstal asook aan sewentien uitstallers wat onafgebroke sedert 1974 op die huidige terrein uitstal. 2016 se rekord NAMPO was ‘n wonderlike afskeidsgeskenk aan Johan Loxton wat NAMPO die afgelope 20 jaar bestuur het. Toit Wessels sal vanaf 1 Oktober 2016 die leisels oorneem onder mentorskap van Johan.

Aanstaande jaar se NAMPO Oesdag sal plaasvind van 16 tot 19 Mei.

 



Gallery
NAMPO: Grootste landbouskou in die wêreld!
...
AgriEco
Voting Poll
N