Lowveld
Kleurvolle stokperdjie word 'n besigheid
13:18 (GMT+2), Wed , 06 July 2016
Lowveld
Die Vanda coerulea-orgidee kom van die Himalajas maar groei gemaklik in die Groblers se tuin en kweekhuise.

Toe Christo en Peggy Grobler in 1975 met die geboorte van hul seun, Lourens, in die Rob Ferreira-hospitaal 'n orgidee as 'n geskenk van die Nelspruit-krieketklub ontvang het, kon hulle nie droom dat dié plant eendag tot hul besigheid Afri Orchids sou lei nie.
Lourens, 'n vriendelike rekenmeester met 'n besige praktyk, lag innemend hieroor wanneer hy deur die kweekhuise op hul plaas in die geil en beskutte vallei naby Alkmaar, stap. 
"'n Geliefde stokperdjie het 'n besigheid geword," sê hy nadenkend. Vandag is dit 'n groot uitdaging as Louens en sy vrou, Jolisa, genoeg voorraad van 'n verskeidenheid soorte en teen goeie kwaliteit beskikbaar moet te hê. 
Toe die plaas in die Alkmaar-omgewing in 1998 deur Christo gekoop is, is die kweekhuis wat eens in Roderickstraat gestaan het, soontoe geskuif. Toe Lourens met Jolisa in 2000 getroud is, het hulle die kweek van die seldsame plante saam begin bestuur. 
Oor 'n lang tydperk is die besigheid met toewyding laat groei sodat dit nou vele kweekhuise vol orgideë asook bromeliads beslaan. Tans is daar meer as 4 500 plante in hul kweekhuise.
"Oor die orgideë, veral die skaars soorte wat aan die uitsterf is maar waarvan ons wel plantmateriaal het, voel ek 'n sin van rentmeesterskap. Ek hou daarvan om te dink ons het 'n groter doel met die plante aan ons toevertrou, wel dié van oppas, beskerm en bewaar," sê Jolisa, ook 'n rekenmeester. 
Jolisa se dag begin reeds vroeg wanneer sy die internetbestellings aflaai, kweekhuise deurstap en plante rondskuif sodat hulle die beste van die omstandighede kan maak. 
Dit neem die meeste orgideeplante vyf tot ses jaar om te blom. By die ontwerp van kweekhuise moet die hoeveelheid lig in gedagte gehou word. 
Sewentig persent swart skadunet word aanbeveel vir meeste orgideë. Christo en Peggy woon ook op die plaas. Hy stap gemaklik saam met Lourens en Jolisa deur die kweekhuise, breek hier 'n bruin blaar af en kyk nog steeds met waarderende verwondering na verre lande se blommekroon wat hier in die Laeveld pryk.
"My gunsteling orgidee? Enige een wat blom!" sê hy. Hy is veral trots op die feit dat Afri Orchids verlede jaar op die Wêreldskou tweede plek losgeslaan het. "Dit verg toewyding en 'n skouwenner is 'n kroon op harde werk."
Die Groblers is spesiekwekers en voorsien nie orgideë wat reeds blom aan kettingwinkels nie, maar wel 'n wye verskeidenheid spesies aan versamelaars. Die prys van orgideë word deur vraag en aanbod bepaal. Daar is die werklike skaars spesies wat ook skouwenners is en tot soveel as $20 000 op die internasionale mark kan haal.
"Dit neem tyd om 'n gevestigde naam te kry. Ons het 'n nismark wat meesal aan versamelaar voorsien," sê Lourens. Meeste orgideë van Afri Orchids word deur hul webtuiste verkoop (www.afriorchids.co.za) asook by skoue dwars oor die land. Ope dae by die kweekhuise op die plaas in Alkmaar in April en September bied kopers landwyd ter plaatse 'n koopgeleentheid.
Een van die pluspunte vir Lourens is die interessante plekke waar die soeke na nuwe spesies of lieflingblomme hul al geneem het. Plekke soos Colombië, Ecuador en Indië het 'n onuitwisbare indruk op hom gelaat.
Orgideë kan van saad gegroei word en is uitmuntend hiervoor toegerus. In een peul kan jy soms tot 100 000 saadjies kry. Die plante kan ook van 'n bol gegroei word. 
Lugbeweging is belangrik, veral as die kweekhuis met plastiek of veselglas toegemaak gaan word. Die tipe orgideë wat gegroei word sal bepaal of dit verkoel moet word in somer en/of verhit moet word in winter. Mbombela het nie 'n groot versamelaarsmark nie. Orgidee-liefhebbers hier soek tuinorgideë. 
"'n Versamelaars sal nie rus tot hy sy versameling met die plant van sy keuse kan spog nie," glimlag Lourens. Versamelaars is belangrik vir die voortbestaan van orgideë, meen Jolisa. 
"Hulle speel 'n belangrike rol in bewaring." Sy en Lourens betreur veral die uitsterf van 'n veldorgidee wat vantevore in Steiltes gegroei het maar na ontwikkelings uitgeroei is, omdat veral die water besoedel is. Jolisa en Lourens het ook kennis soos hierdie in hul pragboek Field Guide to the orchids of Northern South Africa and Swaziland (R280, uitgegee deur Umdaus Press, 012-991-2988) vervat.
Aanwysings na Afri Orchids: 
Ry van Mbombela op die N4 tot by die afdraai na links na Kwanyoni Lodge. Neem die grondpad parallel met hoofpad en ry verby die Lodge tot by die vurk in die pad. Neem linkerkant van die vurk en ry to by die ingangshek. Neem die derde pad na regs (R3 gemerk). Navrae: Jolisa by 079-492-9385.



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N