North West
Dieselkwessies onder die loep geneem
10:25 (GMT+2), Fri , 08 July 2016
North West
Dieselkwessies onder die loep geneem

Die landbousektor het in 2015 nagenoeg R11 miljard aan brandstof bestee. Dit beteken dat die sector jaarliks ongeveer 1 miljard liter diesel gebruik en dit spreek vanself dat enige verandering in die dieselprys ’n wesenlike invloed op die kostestruktuur en gevolglik die winsgewendheid van die sektor uitoefen.

Johan Pienaar, Adjunk-Uitvoerende Direkteur, Agri SA

Gebaseer op jaarlikse verbruik,is bereken dat vir elke 1c/lverandering in die dieselprys die landbousektor op ’n jaarbasis met R10 miljoen nadelig of voordelig beïnvloed word. Die prystoename wat vanaf 6 April in werking getree het – tussen 90c/l en 95c/l – sal dus, indien dit vir ’n jaar volgehou word, die insetkosterekening van die sektor met bykans R1 miljard verhoog. 

Alhoewel die depresiasie van die rand normaalweg die uitvoer van landbouproduksie in terme van uitvoerrealisasies of pryse gebaseer op invoerpariteit positief beïnvloed, is die uitwerking daarvan negatief op die pryse van ingevoerde insette. Dit was die geval met die onlangse verhoging in brandstof. 

Wat die situasie vererger het, is die aankondiging van die minister van finansies in die begrotingsrede van 24 Februarie dat die brandstofbelasting vanaf 4 April met 30c/l sou verhoog. 

Alhoewel die terugbetaling wat die landbousektor ontvang ook tot ’n vlak van R2,62/l verhoog het (vergeleke met die vorige bedeling waartydens dit op R2,50/l vasgestel was), is die netto verhoging steeds wesenlik en sal dit steeds ‘n groot invloed op koste uitoefen.

Die toename in die terugbetalingsvlak geskied volgens ’n ooreengekome formule waarvolgens die landbousektor 40% van die toename in belasting as ’n groter terugbetaling ontvang. Alhoewel hierdie terugbetaling slegs terugeisbaar is op 80% van legitieme gebruik, soos deur die doeane- en aksynswet voorgeskryf word, is die omvang daarvan vir die landbousektor wesenlik. Die waarde daarvan, gegewe voorgenoemde syfers, beloop op ’n jaarbasis nagenoeg R2 miljard (terugbetaling van Padongelukkefonds is hierby ingesluit).

Vir dié rede is dit verstaanbaar dat SARS tans die administrasie van die stelsel in die visier het en daar is in die jongste verlede verskeie oudits op plase gedoen om vas te stel of boere aan die wetlike voorskrifte voldoen. Hierdie ouditprosesse het vanuit ’n boer-perspektief nie in alle gevalle na wense verloop nie. In verskeie gevalle is terugbetalings geweier of vorige betalings herroep. Daarom is Agri SA en affiliasies soos Graan SA deurlopend in gesprek met SARS om die logboekstelsel te finaliseer sodat dit ook die praktiese situasie op plase in ag sal neem.

In ’n onlangse voorlegging het Agri SA onder meer gevra dat daar vir tipiese plaasvoertuie soos trekkers nie individuele logboeke voltooi moet word nie. Ons het voorgestel dat rekords slegs by hervullingspunte voltooi moet word wanneer brandstof vir sulke voertuie aangevul word. Dit sal die administratiewe las van die stelsel aansienlik verlig.

SARS het werkwinkels in die onderskeie provinsies gehou om die administratiewe stelsel met belanghebbendes te bespreek en dit wil voorkom of boere in verskeie gevalle ontevrede was met die inligting wat hulle daar ontvang het.

Hoe dit ook al sy, dit is ’n aangeleentheid wat dringend hanteer word om die stelsel algemeen en wetlik aanvaarbaar te maak en ook sorg te dra dat die uitbetalings wat teruggehou word, kan plaasvind en in die toekoms op ’n ooreengekome en wetlik aanvaarbare wyse voortgesit word.



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N