North West
Wondermiddels vir alle parasiete??
10:44 (GMT+2), Fri , 08 July 2016
North West
Wondermiddels vir alle parasiete??

Dr Gerhard H Verdoorn,  Gifinligtingsentrum, nesher@tiscali.co.za 082-446-8946 en Suid-Afrikaanse Dieregesondheidsvereniging www.saaha.co.za, 011-805-2000

Ons mense is eienaardige wesens: ons is maklik oortuigbaar deur geslepe akteurs dat iets die “beste” op die mark is veral as dit kom by produkte wat gewoonlik ‘n paar rand uit die sak jaag. Daar is alweer sulke dinge wat die rondtes in Suid-Afrika doen met ‘n maatskappy ‘n wonderkuur vir alle parasiet vervaardig en dit aan die boere beskikbaar stel. Die bewering is dat dit alle interne en eksterne parasiete beheer, nogal op alle diere en voëls. Boere se oë blink en die gelde rol vir ‘n middel wat niks meer werd is nie as die kulture wat ‘n bekende Namakwalander so dertig jaar gelede die land in rep en roer gehad het. Dit slaan mens dronk dat iemand so iets kan glo en dit nogal aankoop en vir sy vee doseer. 

Wat elke boere, of selfs dan enige eienaar van diere moet weet is dat elke dierspesie van die volgende een verskil. Plaas  nou daardie dier in die konteks van parasiete en die prentjie raak nog meer kompleks. Werk daarby in die verskil tussen inwendige parasiete en uitwendige parasiete dan is daar net een middel wat alles sal beheer en dit is ‘n kernontploffing wat die dier en al sy interne en eksterne parasiete atomiseer! Interne parasiete is wurms en slakagtige organismes terwyl eksterne parasiete bosluise, myte luise, vlieë, vlooie en ander ses of agtpotiges is. Enige boer wat sy sout werd is behoort te weet dat interne parasiete bitter moeilike kalante is wat met verskillende doseermiddels aangeval moet word om hulle effektief te beheer. Uitwendige parasiete is gewoonlik nie so moeilik om onder beheer te bring nie, veral nie as die boer ‘n waaksame oog oor die diere hou nie. 

Die wondermiddel wat aangebied word, is ‘n geheim so groot soos die KGB se eie manifes: niemand mag weet wat in die middel is nie want dis “gepatenteer” en sommige van die advertensies maak nog boonop aanspraak dat die middel kankergenesend is. Wat nog meer lagwekkend is, is dat die middel volgens die vervaardigers 100% effektief is en groei en produksie by diere bevorder. Dit klink amper of die vervaardigers die hele koöperasie leeg gekoop het, ‘n konkoksie van alles aanmekaar geslaan het en dit as die wondermiddel bemark. Parasitoloë (dis die slim mense wat hulle navorsing aan parasiete wy) sal dit onomwonde stel dat geen middel ooit 100% effektief sal wees om enige parasietspesie te beheer nie. Daar is altyd weerstandbiedende indiwidue in die parasietbevolking wat die chemiese aanslag oorleef en dit is juis hulle wat die kopsere veroorsaak met ‘n parasietbeheerprogram. 

Eksterne parasiete soos die genoemde sespotiges en agtpotiges word meestal met die klassieke plaagdoders beheer wat nie die inwendige parasiete sal beheer nie. Daar is egter ‘n reeks van die avermektiene soos onder andere ivermektien en moksidektien wat beide interne en sommige eksterne parasiete beheer. Die interne parasiete vereis middels soos onder andere die imidasole, salisielaniliede en nitrofenole wat hulle effektief in plaasdiere beheer. 

Geeneen van die interne of eksterne parasietmiddels se vervaardigers maak egter die aanspraak dat hul middels ALLE parasiete 100% doeltreffende beheer nie, want dit is wetenskaplik onmoontlik. 
Dus, wanneer ‘n persoon of maatskappy met die bewering na vore kom dat sy middel wel alles beheer en nogal op alle spesies, dan wonder mens of dit vanaf die eienaars van Mad Magazine om want dis nogal amusant. 

Die eerste wet van logika sê mos: as dit te goed is om waar te wees dan is dit nie waar nie! 



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N