Northern Cape
Beplan, sink en bestuur jou boorgat reg…
10:56 (GMT+2), Fri , 08 July 2016
Northern Cape
Beplan, sink en bestuur jou boorgat reg…

Kinders moet nie in die water mors nie – die oumense wil dit drink (of gooi dit by) het ons almal gesing toe ons kinders was – onthou jy? Deesdae, is hierdie gesegde al hoe meer van toepassing met droogtes wat hul tol eis, regerings wat allerlei beperkings op waterverbruik plaas en water wat in die algemeen al hoe skaarser en duurder word. 

Vir boere regoor die land en die wêreld is boorgatwater die enigste bron van water behalwe as jy nou só gelukkig is om ‘n reuse dam of ‘n rivier op jou plaas te hê. Maar om deesdae ‘n boorgat te sink, kos baie tyd, geld en moeite. Daar is ‘n hele paar belangrike oorwegings waaroor jy moet peins voordat jy goedsmoeds die toerusting “opslaan” en begin om ‘n boorgat te sink. Albertus Lombard – ‘n “grondwaterkenner” gee ‘n paar riglyne oor die kwessies wat jy moet oorweeg voordat jy begin boor. 

“Mense praat dikwels van ondergrondse “damme” of “mere”. Dit is nie heeltemal so eenvoudig nie. Grondwater is meestel in dolomietformasies vasgevang – groot of klein. Die meeste Suid-Afrikaanse grondformasies bestaan uit karooformasies, sandsteenformasies, rotsformasies en dolomietformasies – laasgenoemde is waar die water vasgevang is. 

So dus – jy wil seker maak jy het die regte tegnologie (boorapparaat), jy gebruik die regte metodes (wetenskap) en jy het die regte area geteiken. Met al hierdie dinge behoort ‘n grondwaterkenner (grondwatergeoloog) jou te kan help. Hy sal jou eerstens wys waar hy meen die regte plek is om te boor. Dit is ook baie belangrik om notas te maak van die boorproses. Met ander woorde, hoe lank en hoe diep jy boor voor jy water kry en watter formasies jy in die boorproses aantref totdat jy water kry. Dit sal jou help om die boorproses met die geoloog te bespreek sodat hy/sy sekere aanbevelings kan maak. 

Wanneer jy water gekry het, is dit belangrik om eers die water te toets. ‘n Mens toets die water vir die hoeveelheid water, (sterkte van die boorgat), die herstel van die boorgat – hoe lank dit vir die holte in die dolomietformasie neem om weer die grondwatervlak te herstel, en laastens maar ook baie belangrik – die kwaliteit van die water. In spesialisboerdery wat ons vandag oral in die land aantref, is dit baie belangrik dat die tipe en kwaliteit water van jou grondwaterprojek geskik is vir die tipe bedryf waarmee jy boer. 

Laastens is dit ook baie belangrik om jou boorgat reg te bestuur. Met ander woorde – besluit op die kraglewering en grootte van die pomp nadat jy die “sterkte” van boorgat getoets en bevestig het, anders kan jy baie maklik onnodig geld spandeer op ‘n groot en duur pomp terwyl jou boorgat dalk hoegenaamd nie vinnig genoeg vir jou tipe pomp herstel nie en jy jouself in die proses net verdere frustrasie op die hals haal…Net so kan ‘n te swak pomp nie die druk en diepte van jou boorgat hanteer nie en herhaaldelik ingee om jou gereeld in die steek te laat of met ekstra uitgawes opsaal. 



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N