Limpopo
Boere gaan gebuk onder droogte
14:24 (GMT+2), Mon , 01 August 2016
Limpopo

Agri SA se kantoor word tans oorweldig deur versoeke vanaf uiters desperate kommersiële en opkomende landbouprodusente om droogtehulp.
Hulle doen ‘n beroep op die korporatiewe sektor en algemene publiek om finansieel by te dra tot Agri SA se droogtehulpfonds vir die befondsing van voerpille en die vervoer daarvan na produsente in nood.
‘n Ander groot probleem wat Agri SA ondervind is dat ‘n toenemende getal hoogs produktiewe en suksesvolle kommersiële produsente sukkel om kop bo water te hou.
Hulle doen ‘n beroep op kommersiële banke en agribesighede om maniere te vind om grootskaalse bankrotskappe onder hierdie produsente te verhoed. Hulle vra ook dat die regering hulp verleen aangesien hierdie produsente ‘n belangrike rol speel om voedsel op groot skaal vir die kommersiële mark te produseer.
Dit is veral produsente in dele van die Noord-Kaap, Vrystaat en Noordwes, Oos-Kaap en Wes-Kaap wat ‘n ernstige krisis in die gesig staar en dringend finansiële hulp benodig. Hulle kan nie langer bekostig om veevoer aan te koop nie en het nie die nodige kontant om hul boerderye aan die gang te hou nie. Boorgate op baie plase het ook begin opdroog en diere is besig om te vrek.
Plaaswerkers en hul gesinne het ook dringend humanitêre hulp nodig. Die voortdurende droogte in dele van Suid-Afrika het ‘n geweldig negatiewe en vernietigende impak op sosio-ekonomiese omstandighede in baie landelike gemeenskappe. Die verlies aan ‘n toenemende getal kommersiële produsente wat die ruggraat van ekonomiese groei en werkskepping uitmaak, sal bloot die armoede en werkloosheid in hierdie gebiede vererger.
Agri SA doen ‘n beroep op die korporatiewe sektor en die algemene publiek om by te dra tot Agri SA se droogtehulpfonds aangesien ons produsente nou meer as ooit tevore hulp nodig het.
‘n Opgedateerde verslag oor die hulp wat boere uit Agri SA se droogtehulpfonds ontvang het:
• Bydrae deur die korporatiewe sektor, internasionale skenkers, kerkgemeenskappe en die algemene publiek - R16 miljoen.
• Getal kommersiële boere wat hulp ontvang het - 12 921.
• Getal opkomende boere wat hulp ontvang het - 3 053.
• Totale getal boere wat hulp ontvang het - 15 974.
• Getal bale (rond en vierkantig) wat versprei is - 66 557.
• Getal sakke voerpille wat versprei is - 36 609.
• Getal plaaswerkers en landelike gesinslede wat van kospakkies en gebottelde water voorsien is - 9 057 plaaswerkers (x4 lede = 36 228 landelike gesinslede).
• Getal trokke wat gebruik is - 579.
• Getal skenkers wat fondse beskikbaar gestel het - 1 300.
• Getal mieliemeel- en voedselpakkies - 236 ton
• Getal gebottelde water - 548 000 liters
• Getal watertenks wat geskenk is en boorgate wat gesink - 20 watertenks, 3 boorgate
Finansiële oordragte aan provinsies vanuit die droogtefonds:
• Noord-Kaap R 3 418 421,00.
• Noordwes R 3 389 474,00.
• Vrystaat R 3 189 474,00.
• Wes-Kaap R 2 250 000,00.
• Oos-Kaap  R 889 474,00.
• KwaZulu-Natal R 505 263,00.
• Ander provinsies R 607 895,00.
Die tekort aan wintervoer is ‘n ernstige probleem en enige skenkings deur die publiek sal hoog op prys gestel word. Verdere oordragte vanuit die droogtehulpfonds sal in Augustus en September gemaak word aan die provinsies wat ernstige tekorte aan veevoer of wintervoer ervaar.
Die mobiele boodskap toepassing (App), WeChat, het ook besluit om hand by te sit. Vir instruksies, gaan na: http://droughtaidfund.co.za/wechat-drought-fund/
Die bankbesonderhede is soos volg:
Begunstigde: Agri SA Drooogtehulpfonds
Bank: Absa
Rekeningtipe: Tjek
Rekeningnommer: 40-6854-0775 
Tak-kode: 632 005 (Besigheidsbank – Pretoria-Oos)
Begunstigde se verwysing: RAMP
 “Skenkers is welkom om deel te neem en om regstreeks bydraes te maak tot die droogtehulpfonds. Ons bedank graag alle individue, maatskappye en groot korporatiewe instansies wat tot die fonds bygedra het en sodoende ‘n merkwaardige verskil gemaak het in die lewens van ons boere, plaaswerkers en boerderygemeenskappe,” aldus Agri SA President, Johannes Möller. 



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N