Limpopo
Lim se beskeie megaboer
14:26 (GMT+2), Mon , 01 August 2016
Limpopo

Elana Greyling

Lourens du Plessis en sy wenspan boer in verskeie provinsies, onder meer die Noord-Kaap, Noordwes en in Limpopo, teen die Krokodilrivier naby Makoppa.
Nogtans wil hy nie as ‘n megaboer gedefinieer word nie.
Vra vir Lourens die geheim van sy sukses, en hy vra: “Wat is sukses? Sukses is vir my as jy vrede in jouself gevind het. Dit het niks te doen met finansiële doelwitte of die grootte van jou bedryf nie. As jy binne jouself suksesvol voel en jou passie kan uitleef, ken jy die geheim”. 
Daarom glo hy, kan ‘n mens suksesvol wees op 100 hektaar en as jy nie op ‘n 100 hektaar suksesvol kan wees nie, sal jy ook nie op 100 000 kan wees nie. Sukses op ‘n laer vlak, lei na groei na hoër vlakke toe.
Lourens het self op ‘n klein stukkie grond begin boer. Hy het in die Thabazimbi-omgewing grootgeword en na matriek gewasproduksie studeer. Hy leer nou nog, vertel hy en wys sy boeke wat op die lessenaar lê.
Hy het in 1986 begin boer. Hy wou altyd boer, “dis mos maar in ‘n man se bloed”.
Langs die Krokodilrivier het hy met ‘n saaiery begin; rissies, uie en grondbone. Dit is gewasse wat baie arbeid verg. Hy is in 1997 na die VSA vir navorsing om ‘n groot pakstoor op te rig maar die regeringsbeleid, maatskaplike toelaes en ‘n algemene kultuur van “alles verniet kry” onder die plaaslike arbeid het gelei tot sy besluit om die arbeidsintensiewe gewasse te staak.
Hy het oorgeskakel na gewasse wat hom minder afhanklik maak van arbeid en is baie tevrede met sy wenspan, hulle toewyding en bekwaamheid.
Hulle plant nou koring, mielies, soya, en hawer vir wildboere. Verder het hy onder meer ‘n wildboerdery met gewone wild en ‘n paar skaars soorte soos buffels, swartwitpense, livingstone elande, njalas, swart rooibokke, en goue wildebeeste onder andere. Die wildboerdery lewer wild vir jagters, meeste Europieërs, asook wildtelery. ‘n Waterbokbul is twee jaar gelede vir R500 000 verkoop en is tans in ‘n teelprogram naby Warmbad.
‘n Opwindende nuwe uitbreiding is die stoet op sy plaas in die Noord-Kaap. Wagyu is ‘n Japanese beesras wat die sagste vleis oplewer. Daar is ‘n groot aanvraag vir hierdie tipe beesvleis en die mark is ondervoorsien.
Alhoewel dit ‘n nismark is, is daar groot potensiaal in. Lourens beplan om diere vir teeldoeleindes te voorsien aan kommersiële vleisboere.
Hulle is ook besig met ‘n Friesperd-stoet en twee van hul perde sal vanjaar by die Pretoria Skou ten toon gestel word.
Lourens en sy vrou, Irma, ‘n opgeleide verpleegster deesdae in beheer van die besigheid se administrasie, het drie kinders.
Hul dogter, Chrisna, het argitektuur aan Tuks studeer, en is tans in Adelaide in Australië besig met verdere studies. Die twee seuns, Lourens en Dieter, studeer tans aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Lourens (junior), een van net drie studente om sy landbougraad met onderskeiding te verwerf, is nou besig met sy Honneursgraad in besproeiingsbestuur. 
Sy planne is om eers ‘n jaar saam met grondkundiges te gaan werk voor hy by die besigheid betrokke raak. Dieter, ‘n kranige rugbyspeler, is tans in sy eerstejaar bourekenkunde.
Lourens gee graag raad aan jong boere. Dis alles raad wat hy self in sy boerdery toepas. 
“Harde werk is ‘n voorreg,” verduidelik hy. As jong man het hy jare lank self saam met die arbeiders gewerk, totdat die bestuur daarmee begin inmeng het. “Dit leer ‘n mens wat werk is, dit gee die arbeidsmag respek vir jou, hou jou fiks en vol energie.”
Een van die redes waarom hy altyd sku is vir publisiteit is omdat hy voel sy boerdery is gebou op goeie spanwerk. Sy mense is vir hom baie belangrik. Voordat hy iemand aanstel, van die grondvlak af boontoe, moet hulle toetse aflê. 
“As jy wil boer, bekwaam jouself, studeer landbou,” sê hy. In sy besigheid wil hy graag net gegradueerdes in die bestuurspan aanstel. 
“Sorg dat jy doen waarvoor jy ‘n passie het. Dis belangrik om uit te vind wat die doel is waarvoor jy geskape is. Elke mens het ‘n inhirente skeppingsdoel. Baie mense beweeg buite hulle skeppingsdoel en is daarom ongelukkig en onsuksesvol. As jy binne joune kan leef kan jy dit passievol doen. Dan is jou sukses so te se gewaarborg, mits jy die basiese reëls van die ekonomie gehoorsaam en selfdissipline aan die dag lê.”
Nog goeie raad wat hy het, is: “Raak betrokke by suksesvolle mense. As jy eksponensieel wil groei, raak betrokke by spanwerk met goeie leiding. Jy hoef nie die eienaar of baas te wees om suksesvol te wees nie. Jy kan suksesvol binne ‘n span wees, nie almal kan base wees nie. Iemand moet die trekker regmaak, iemand moet die mielies stroop en nie een se werk is belangriker as ‘n ander s’n nie. Dis almal noodsaaklik vir die sukses van ‘n besigheid.
“Vir spanwerk om suksesvol te wees, moet mense verantwoordelikheid neem vir dit wat aan hulle toegese is. Moenie net vir ‘n salaris werk nie. Leef jou passie uit, al is dit iemand anders se eiendom of besigheid”.
Hy gee graag krediet vir sy eie span wat so hard saam met hom werk. “Een man kan nie alles doen nie en sonder hulle was daar nie so ‘n groot besigheid nie.”
Lourens glo ‘n mens se grootste bate is jouself en jou eie inherente eienskappe, selfdissipline, verantwoordelikheid en integriteit. “Wanneer jy finansieel wil groei in die sakewêreld, is dit ononderhandelbaar.”
Verder glo Lourens dis belangrik om te leer om produksiebeplanning te doen. “Maak liewer foute op papier, dis goedkoper.”
Hy self is ‘n positiewe realis. “Bly weg van positiewe mense, hulle sien nie die wêreld soos dit werklik is nie. Bly weg van negatiewe mense, hulle trek jou af. Skaar jou dus by positiewe realiste.”
Vir Lourens is daar geen twyfel oor die toekoms van boerdery nie. “As jy vandag geëet het, kan jy mos nie daaroor twyfel nie.
“Landbou is die enigste bedryf waarsonder niemand ‘n dag kan klaarkom nie.
 “Die wêreld kan nie sonder kos klaarkom nie. Boere moet hulle nie aan intimidasie-politiek steur nie. Hulle is mos in die belangrikste werk: om kos op die tafel te sit.
Geen lewende wese kan sonder kos klaar kom nie. Te midde van politieke beleid, wisselende klimaats- en ekonomiese toestande, sal die landbou bly voortbestaan, al verskuif dit van posisie.
Lourens glo in sy skeppingsdoel, in sy span en in sy passie: om ‘n boer te wees.



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N