Lowveld
SAMAC-navorsingsimposium 2016
11:49 (GMT+2), Fri , 05 August 2016
Lowveld

Die SAMA-navorsingsimposium word hierdie jaar op 24 Augustus by die Emnotweni Arena, Riverside, in Mbombela gehou. Dié symposium is vyf jaar gelede laas hier gehou en dit is hoog tyd om dit weer hier te hê, aangesien die Laeveld van Mpumalanga die grootste produksiegebied van makadamianeute is, en natuurlik ook die meeste aantal makadamiaboere in die omliggende gebiede huisves.

Die simposium is 'n geleentheid waar navorsers direk met boere skakel om terugvoer te gee oor die werk wat hul doen. Boere kry die geleentheid om vrae te vra, om seker te maak dat die kennis wat oorgedra word toepaslik is. Die sosiale skakeling tussen boer en navorser, asook boere met mekaar, is natuurlik ook baie waardevol.

Dié jaar se simposium beloof om 'n hoë standaard te stel, nie net as gevolg van 'n vyfste-venue nie, maar ook met bekende gassprekers. Prof. Bernard Slippers van die Forestry and Agricultural Biotechnology Institute (FABI), geleë by die Universiteit van Pretoria, gaan die gehoor toespreek oor suksesse wat reeds behaal is deur samewerking met industrie en akademia. Prof. Slippers spesialiseer in ekologiese en evolusionêre genetika van swam-patogene en peste van bome, asook die biologiese beheer daarvan. Die tweede gasspreker, dr. Gerhard Verdoorn, is 'n professor in chemie en gaan die boere toespreek oor belangrike faktore om in ag te neem wanneer pesbestryding gedoen word. 

Derdens, prof. Erik Holm is 'n bekende entomoloog wat gaan gesels oor geïntegreerde plaagbeheer. 
Buiten die gassprekers, beloof die navorsers om ook hul nuwe bevindinge met entoesiasme te deel. Daar is goeie vordering met betrekking tot biologiese beheer van peste gemaak. Daar is nuwe inligting bekom oor die biologie van die tweekolstinkbesie, wat moontlike beheer-implikasies kan hê in die toekoms. Stinkbesieskade in makadamias word beraam op ten minste R320 miljoen in 2015 en daar word uiteraard aansienlike werk gedoen op stinkbesies. Daar word ook vordering gemaak om swamsiektes te identifiseer en te beheer. Nie alle sprekers se werk word deur SAMAC befonds nie, maar dit is belangrik dat daar steeds 'n goeie verhouding gebou en onderhou word tussen SAMAC en navorsers wat werk doen in die makadamiabedryf.

Direk na die simposium word die SAMAC algemene jaarvergadering gehou, waarna die simposium afgesluit gaan word met 'n formele gala-dinee, wat beloof om voortreflik te wees.

Indien iemand belangstel om die simposium by te woon kan hul vir Alicia Rabé kontak by alicia@subtrop.co.za of die Subtrop-kantoor skakel by 015-306-6240.



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N