Limpopo
PANNAR Rugbyweek vol aksie
08:22 (GMT+2), Fri , 02 September 2016
Limpopo

Agt van Suid-Afrika se landboukolleges het vir die IPJ du Plessistrofee meegeding in die jaarlikse Pannar Rugbyweek in Julie by Potchefstroom Landboukollege in Noordwes. 
Die spanne van Cedara Landboukollege, Kaapse Instituut vir Landbou-opleiding: Elsenburg, Fort Cox Kollege van Landbou en Bosbou, Grootfontein Landboukollege, Taung Landboukollege, Glen Landboukollege en Tsolo Landboukollege het aan die weeklange toernooi deelgeneem. 
Groot dank aan die Potchefstroom Landboukollege wat die toernooi aangebied het. Die studente was dit eens dat dit die beste week nog was. Ons het groot waardering vir die Luiperds Rugbyunie wat skeidsregters en keurders vir die toernooi verskaf het. Die toernooi is afgesluit met ‘n aangename en baie spoggerige dinee in die Alex Holmsaal by die kollege. Die spelers en toernooi is ook vereer met die teenwoordigheid van prof. Deon van Rensburg, die Voorsitter van die Kollege se Advieskomitee, Manketsi Mokoena, LUR vir Landelike Omgewing en Landbou-ontwikkeling, en dr Poncho Mokaila, Departementshoof vir Landelike Omgewing en Landbou-ontwikkeling. Dit is die 30ste jaar wat Pannar Saad die toernooi borg.
Die Elsenburg-landbouopleidings-instituut naby Stellenbosch het vir die soveelste keer die Pannar Rugbyweek gewen.
Die Wes-Kaaplanders het nie net die toernooi gewen nie, maar op die koop toe 12 van die 23 spelers (11 in die opdrafspan) van die SA Lanboukolleges teen Klerksdorp opgelewer. Elsenburg het die IPJ du Plessisbeker gewen deur Grootfontein (Middelburg, Oos-Kaap) 39-0 in die eindstryd te klop. Die kragmeting is ook as die beste wedstryd van die toernooi met die Willie van Zijltrofee beloon. Die wedstryd was tipies van studenterugby, vinnig en aanvallend. Elsenburg het harde gestruktureerde en aanvallende rugby gespeel en met beter afronding die spel oorheers. Hul formidabele voorhoede en agterlyn het seepglad gefunksioneer. Die span verdedig baie goed en het die vermoë om druk in geleenthede te omskep. Die vaart in die agterlyn sorg vir drieë.
Nieteenstaande, die punteverskil het Grootfontein goed meegeding en by tye mooi aanvalle van stapel laat loop. Potchefstroom het die derde plek ingeneem deur Fort Cox (naby King Williams Town) 34-8 te verslaan. Die Pampoenboere het aanvanklik oorheers en vinnig drieë gedruk, maar teen die einde van die eerste helfte ‘n bietjie stoom verloor. Potchefstroom het in die vaste spel en skrums oorheers en só die geleentheid geskep om punte aan te teken. Fort Cox het goed aangeval, maar swak hantering het hulle gereeld die inisiatief gekos.
Glen (Bloemfontein) het Cedara as Plaatkampioen onttroon deur die eindstryd 25-0 te wen. Die wedstryd was in baie opsigte gelyk, maar baie los. Glen het meer gestruktureer gespeel en Cedara het nes Fort Cox met hul hantering gesukkel.
Tsolo (naby Mthatha) het Taung 24-22 geklop. Die verloorspan het aanvallende rugby gespeel en sy keuse om nie pale toe te skop nie het hul uiteindelik die wedstryd gekos. As nuweling in die toernooi het Tsolo volop durf getoon en die sege verdien. Na afloop van die toernooi is ‘n SA landboukollegesspan gekies om teen die Klerksdorp Askari-span te speel. Suid-Afrika se boere is bekend vir hul taaiheid en het die wedstryd 43-5 gewen. Die span se afrigter, Gerald McPherson van die Luiperds, laat weet die landboumanne het die eerste vyf minute ten volle benut om twee keer agter die pale te gaan kuier en met akkurate skopwerk deur Gerco Nortjé (losskakel) 14-0 voorgeloop. Die voorspelers het in die vaste fasette amok gemaak en beheer oor die wedstryd geneem. Die studente het die voorsprong gerek om teen rustyd 27-0 voor te loop.
McPherson sê die kombinasie en kommunikasie tussen voor- en agterspelers was indrukwekkend en die span het tipiese studentehardlooprugby gespeel. “Die kaptein, Pierre Rabe (slot), wat self ná ‘n goeie breekslag van Jaco de Waal (senter) agter die doellyn gaan kuier het, het sy troepe na ‘n goeie oorwinning gelei. Drie van verlede jaar se spelers is weer in die nasionale span ingesluit: Grootfontein se TP Swanepoel en die Elsenburgers Attie van Rensburg en Stirling Naudé. Elsenburg het Potchefstroom deeglik gelooi in die landboukolleges se jaarlikse Pannar Rugbyweek wat vanjaar op Potchefstroom uitgespook is. Die span uit die Wes-Kaap het die kragmeting in die toernooi se Bekerafdeling 52-5 gewen. Grootfontein het die ander wedstryd in dié afdeling 38-3 teen Fort Cox gewen.
Die landboukolleges van Grootfontein en Potchefstroom het vir ‘n rillerstryd op die tweede dag van die kolleges se jaarlikse Pannar Rugbyweek gesorg. Grootfontein het die kragmeting in die Bekerafdeling 22-17 gewen. “Wat ‘n wedstryd! Albei spanne het hard en met oorgawe gespeel. Daar was min te kies tussen die twee spanne. As Potchefstroom al sy skoppe benut het, kon die telling anders daarna uitgesien het. Dit was die beste wedstryd van die dag en albei spanne kan trots op hul indrukwekkende vertonings wees,” het Peet van der Walt, ‘n Woordvoerder van Pannar, gesê.

 



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N