Limpopo
Onkunde oor die waarde van jag kniehalter bewaring van wild
08:23 (GMT+2), Fri , 02 September 2016
Limpopo

Die amptelike jagseisoen in Suid-Afrika het pas afgesluit.
Terwyl menige Suid-Afrikaner nog heerlik smul aan wildsbiltong, droëwors of ‘n koedoepotjie, is ander minder entoesiasties oor jag. Aan die ander kant van die skaal is anti-jag ekstremiste wat nie huiwer om jagters met die dood te dreig en sleg te sê nie. Vanjaar se jagseisoen was geen uitsondering nie. 
Die mees onlangse anti-jag mediasirkus spruit voort uit die 12-jarige Amerikaanse skoolmeisie van Utah, Aryanna Gourdin, wat met die dood gedreig is nadat sy foto’s van ‘n kameelperd wat sy tydens ‘n jagsafari in Suid-Afrika gejag het, op haar Facebookblad geplaas het. Sy het ook ‘n sebra en ‘n blouwildebees tydens dieselfde safari geskiet. 
Om te jag of nie te jag nie, bly ‘n persoonlike keuse. Volgens navorsing wat deur die Noordwes Universiteit gedoen is, is daar sowat 220 000 benuttingsjagters in Suid-Afrika wat vrylopende wild jag om hulle gesinne se vrieskaste vir die volgende jaar vol te laai met ‘n voedsame, lae-vet proteïen wat vry is van enige antibiotika of ander medikasie. Hoewel buitelandse trofeejagters, soos Aryanna, nie self die vleis kan benut van die diere wat hulle jag nie, gaan dit nie verlore nie. Dit is algemene praktyk vir trofeejagters om die vleis van gejagde diere aan minderbevoorregtes in die plaaslike gemeenskap te skenk. Beroepsjagters, wie die buitelandse jagters moet vergesel, ken die gemeenskappe waar hulle gaan jag en verseker dat die vleis uitkom waar die grootste behoefte is.
Fred Camphor, Uitvoerende Hoof van SA Jagters (Suid-Afrikaanse Jagters en Wildbewaringsveriging) sê dit is tragies dat anti-jag aktiviste agter hulle liefde vir diere en die natuur skuil om ander mense te beledig en te dreig net omdat hulle nie met hulle lewensfilosofie saamstem nie.
“Die oorsaak van hierdie emosionele uitbarstings in die media lê grootliks in die onkunde oor die rol wat jag in bewaringsbestuur speel.
“Anti-jag aktiviste buit hierdie onkunde uit om die oningeligte publiek teen jag op te sweep.”
Camphor verduidelik dat jag, insluitende trofeejag, die waarde van wilde diere verhoog en verseker dat hierdie spesies vir die nageslag behoue bly. “Daar is toenemend druk op wildspesies omdat menslike bevolkingsgroei hulle habitat bedreig.
“Daarom is dit uiters belangrik dat wildpopulasies met groot omsigtigheid bestuur word. Oordeelkundige en verantwoordelike jagpraktyke is een van die belangrikste en mees doeltreffende en verseker die mees ekonomies-haalbare metodes om wildgetalle te bestuur.” 
Hy sê dit is waar dat die jag van ikoniese diere soos leeus, luiperds en olifante oorweldigende emosionele reaksies uitlok onder diereregte aktiviste wat nie die delikate balans en verantwoordelikheid van bewaring verstaan nie. Sonder jagters sou Suid-Afrika egter nie die wêreldleier in bewaring gewees het wat dit vandag is nie. 
Dit is wettig om in Suid-Afrika te jag mits jagters aan al die permitvoorwaardes voldoen soos voorgeskryf in natuurbewaringswetgewing (Wet 10 van 2004). Jagverenigings soos SA Jagters het ‘n jagterskode wat ‘n waardestelsel verteenwoordig waaraan sy lede moet voldoen wanneer hulle gaan jag of hulleself in die natuurlike omgewing bevind.
Hierdie jagterskode is gebaseer op vier beginsels - respek vir lewe; respek vir die natuur; respek vir die wet; en respek vir hul medejagter.
Om onkunde oor die waarde van jag as ‘n bewaringsmeganisme te bekamp, neem SA Jagters van 24 September tot 5 Oktober deel aan ‘n gesamentlike jagbedryfsuitstalling by die Convention on International Trade in Endangered Species of Wild Fauna and Flaura (Cites) se COP17 wat in Johannesburg plaasvind.
Regeringsverteenwoordigers van 182 lande woon Cites by om te besin oor die status van dier- en plantspesies met die oog op bewaring. 
Besoek www.sahunters.co.za vir meer inligting oor SA Jagters of skakel (012) 808 9300

 



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N