Limpopo
Die gifman met die gifkan
08:24 (GMT+2), Fri , 02 September 2016
Limpopo

Hy sluip in die voorstede rond, soms te voet, meestal met ‘n ou bakkie waarop lekkende kanne vol gif is en met ‘n reuk wat wie-weet-waar al aankom.
By die voorhek stel hy homself as deskundige in plaagbeheer voor en bied goedkoop, maar uiters effektiewe, spuitdienste aan om die huis en tuin se goggas met een ordentlike spuitpoging finaal die gees te laat gee. 
Jy nooi hom sommer dadelik in want driehonderd rand vir die hele erf en in die huis is te goed om waar te wees. Dis dán wanneer die telefoon lui en jy inderhaas vir die deskundige beduie hy moet voortgaan om die peste dood te spuit. 
Wanneer jou besigheidsvennoot uiteindelik jou van die telefoon ontslaan onthou jy die gifman en haas jouself buite toe waar die plek een geweldige walm van onwelriekende reuke is. 
Die deskundige verduidelik dat dit ‘n nuwe gifstof is wat alles met een hou uitwis en jy aanvaar dit gelate want nou is die stryd teen gogga en spinnekop uiteindelik gewen. Weer lui die telefoon en die gifman beduie hy sal voortgaan met sy chemiese oorlogvoering. 
‘n Halfuur later is hy klaar met die taak en neem sy geld - sommer kontant want dan betaal mens nie BTW nie - en hy glip deur die hek na sy rammelkas. Dis een bol rook as die bakkie se enjin uiteindelik vat en daar vertrek die deskundige. 
Eers ‘n beker koffie maak en dan gaan loer wat in die tuin aangaan. Dieselfde dodelike reuk wat in die tuin was lê nou in die kombuis en op die matte in die gang en slaapkamers.
Miskien sal dit teen vanaand weg wees. Wat is so nat op die broodblik? Jy vat daaraan en dit stink ten hemele. Die man het die gif op die broodblik gespuit! As jy die yskas oopmaak vir ‘n lekseltjie melk vir die koffie slaan die reuk jou soos ‘n donkie skop tussen die oë. In die yskas van alle plekke! 
Jy draf vinnig tuin toe. Die visdam! Al die koi dryf penskant bo! Die kokketiel lê en skop op sy hokkie se vloer! Wat het die jafel aangevang? Wag, ons bel gou. Hy het mos sy nommer gelos. “The number you dialed does not exist”! So ‘n rakker! Spuit alles vrek en los ‘n vals nommer. 
Dit is wat gebeur as mense snoep met die geld is en enige jakkals van die straat af huur om plaagbeheer te doen en, glo my, daar is net soveel van hulle as wat daar jakkalse in die Karoo is. 
‘n Ordentlike plaagbeheeroperateur wat die Suid-Afrikaanse Plaagbeheervereniging of SAPCA geregistreer is, is opgelei gelisensieer en is altyd netjies en professioneel. Hy maak ‘n afspraak om ‘n kwotasie te kom gee, gee ‘n geskrewe kwotasie met die naam van die plaagdoder, sy aktiewe bestanddeel, die volume wat aangewend sal word, die plaag waarvoor dit aangewend word, die prys vir die plaagbeheeraksie en waarskuwings soos om die perseel vir vier ure te vermy.
As jy die kwotasie aanvaar dan daag die geregistreerde plaagbeheeroperateur met sy span op en almal trek eers hulle beskermende klere aan voordat hulle begin meng en aanwend. 
Hulle beweeg deur die perseel en spuit die plaagdoder op die regte wyse en teen die regte dosis. Wanneer hulle klaar is word alles netjies opgeruim voordat jy die faktuur en waarborg ontvang. Dis doodsake om die gifman met sy gifkan van die strate af in te neem vir plaagbeheer. Hy gebruik dikwels plaagdoders wat glad nie tussen of naby mense aangewend mag word nie. Soms is hy slim genoeg om skoon water te spuit sodat jou betaling eintlik vir skoon boorgatsous is. Volgende keer as die gifman met sy gifkan opdaag, wys hom die pad en skakel dan liewers die geregistreerde maatskappy wat ‘n goeie diensrekord het. Gaan lees op www.sapca.org.za oor die goeie mense wat jou plaagbeheer professioneel sal doen. 
Dr. Gerhard H Verdoorn, Gifinligtingsentrum, nesher@tiscali.co.za 082 446 8946 en CropLife Suid-Afrika www.croplife.co.za, (011) 805 2000.



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N