Lowveld
Oudag in die Onderberg: Die suikermeule
10:04 (GMT+2), Fri , 09 September 2016
Lowveld
Jan Lourens.

Jan Lourens, pionierboer van die Onderberg, se eie vertelling van sy looppbaan in landbousake en veral die suikerbedryf, lees soos ‘n vervolgverhaal. Dit is een van die mees boeiende en onderhoudende vertellings oor die ontwikkeling van die landbou in die Onderberg in Hans Bornman se onlangse boek, Mpumalanga Rietkwekersvereniging -Die eerste vyftig jaar. Die boek bevat onder meer ‘n reeks herinneringskrifte van boere wat wat hier ‘n vestigingsrol gespeel het.

Hierdie is die vierde aflewering van ‘n reeks van die vertelling in Jan Lourens se eie woorde. Die boek is beskikbaar by die Mpumalanga Rietkwekers Vereniging se kantoor op Malalane. Gedurende November 1963 kondig minister Nic Diedericks ‘n suikeruitbreiding vir die Oos-Transvaalse Laeveld aan. 

‘n Vergadering van belangstellende boere word hierna op Malelane gehou. Daar moet besluit word of die meule met private inisiatief of op ‘n kooperatiewe basis opgerig moet word. Een van die politieke figure by die vergadering het die boere meegedeel dat die koöperatiewe gedagte tydrowend sou wees en te lank sou neem om finansies te bekom. Indien hulle ‘n suikermeule wou hê, dan moes hulle die koöperatiewe gedagte vergeet. Die boere koop hierdie storie.

Die alternatief was ‘n privaat inisiatief. ‘n Aksiekomitee om die meule te loods, is gekies. Hierdie komitee het uit vier lede bestaan, maar drie het nie lank gehou nie en die hele aangeleentheid is aan die vierde lid oorgelaat om te besluit soos hy goeddink. Die uiteinde was dat General Mining en Volkskas die reggekry het om die meule op te rig. Bonuskor was ook in die mark en wou die meule meer in die digtheid van die suikeraanplanting oprig.

Met die koms van General Mining en Volkskas het die grootste voorspoed, wat die Laeveld nog ooit getref het, gevolg. Maar dit was ook die grootste ramp dat boere toegelaat het dat, soos die Komati-boere dit gestel het, politieke knoeiery die meule 25 myl buite die teoretiese middelpunt van die aanplanting, op Malelane, opgerig is.

Die Sentrale Suikerraad het boere gevra om vir kwotas aansoek te doen. Slegs diegene wat grondeienaars was of ‘n 10-jaar huurkontrak gehad het, kon aansoek doen. Die Huurdersvereniging het met die departement hieroor geskakel. Die huurders het nie aan die vereistes voldoen nie en aangedring dat die huurkontrak vir 10 jaar toegestaan word sodat die huurders ook aan hierdie wonderlike ontwikkeling kon deelneem.

Dit het die departement tydelik in ‘n hoek gejaag, maar hulle het besluit om ‘n blokkwota van 18 000ha (30 000 akker) vir die huurders uit te hou. Die departement sou die kwotas op sy eie tyd en na goeddunke, aan die huurders gee. Dit was dus nie nodig dat hulle vir ‘n 10-jaar huurkontrak kwalifiseer nie. Almal kon aansoek doen waarvoor hulle kans gesien het. Maar voordat die huurders aansoek gedoen het, het die departement ‘n blitsopname van die grond laat doen om te bepaal watter grond aan die nodige vereistes sou voldoen. Die opname is deur geologiese opname van die Departement van Mynwese gedoen. Tussen 30 en 40 huurders het vir ‘n kwota aansoek gedoen.

Intussen het die georganiseerde landbou dr. Verwoerd, toe eerste minister, gevra om iets vir die huurders te doen. Verwoerd het Herman Martins, adjunkminister van landbou, opdrag gegee om die aangeleentheid te ondersoek en om ‘n besluit te neem. Die adjunkminister het die Laeveld besoek en na ‘n vergadering met die huurders, deel die minister die huurders mee: “Kêrels, pak hierdie plase asof dit julle s’n is; plant die riet waarvoor julle kans sien; ek sal waarborg dat julle riet sal plant.” 

Met groot vreugde en met entoesiasme het die huurders voortgegaan en hulself voorberei om suikerriet te plant. Op ‘n dag kry hulle kennis dat hulle daardie aand by die klubsaal op Komatipoort bymekaar moes kom - wanneer die kwotas en aan wie dit toegestaan is - bekendgemaak sou word. Op daardie stadium was daar nog net 25 huurders oor. Die prys van suiker het gedaal en die ander het nie meer belanggestel nie. Mnr. Hugo van die departement het daardie aand die name uitgelees van dié wat ‘n kwota gekry het. Daar is geen kwotas aan Turfbult en ‘n paar ander plase toegeken nie. Die toekennings is volgens geologiese opname se bevindings gemaak.

Die volgende dag skakel ek, as voorsitter van die Huurdersvereniging, Martins en deel hom mee dat hy die huurders aangemoedig het om riet te plant asof dit hulle plaas is. Nou kry sommige geen kwotas. Wat nou?
Ongeveer twee weke daarvoor het die adjunkminister ‘n inspeksie van die plase op die Strijdomblok gemaak. Hy het ook Pongola besoek en was liries oor die riet wat hy in die Laeveld, en onder andere op die plaas Turfbult, gesien het. Hy het die riet met Pongola vergelyk en gesê dat die riet in die Laeveld ‘n baie beter gehalte as Pongola se riet was. Die adjunkminister het my weereens die versekering gegee: Julle sal riet plant, al beskou ons daardie grond as ‘n toetsperseel om te sien op watter swak grond riet dan nog kan groei.
Weens die kwotas wat die ander gekry het, het huurders die handdoek ingegooi en nou het daar net 13 huurders oorgebly. Dit was net hierdie groep wat werklik die geloof in riet gehad het, en hulle het aangehou om riet te plant.

Die meule het nou vinnig voltooiing genader en ‘n meulgroepraad moes gekies word. Die huurders was maar onrustig. Die pionne op die skaakbord was nog glad te onveilig. Hulle het geglo dat die departement die plase in kleiner eenhede gaan opsny, veral langs die oewer. Die huurders het ook snuf in die neus gekry dat wanneer die meulgroepraad gekies word, die huurders nie stemgeregtig sal wees nie, volgens die definisie van die sentraleraad. Wat nou gemaak? Ek skakel weer die adjunkminister: Meneer, ons sit met ‘n ander probleem. Ons gaan vanaand ‘n vergadering hou waar die meulgroepraad gestig gaan word en ons is uitgesluit omdat ons nie stemgeregtig is nie en dit kan nie so wees nie. Ons moet ‘n sê daar hê want ons verteenwoordig ‘n groot gebied.  Die huurders het enige kans om grondbesit te kry aangegryp en hier was nog ‘n skuif in die spel. Enige bedingingskans is aangegryp. Die adjunkminister sê: Ek bel jou terug. ‘n Uur later skakel die adjunkminister terug: Ek het nou met die voorsitter van die Rietkwekers op Malelane gepraat en het hom opdrag gegee (deur een of ander magte wat die minister gehad het) dat daardie manne wat daar is, stemgeregtig is. Ons sal later die saak regstel.

Die meulgroepraad word gestig en ek, as voorsitter van die Huurdersvereniging, word as komiteelid van die Meulgroepraad verkies.

 



Gallery
AgriEco
Voting Poll
N