Central SA
VS-wolboer kry goeie pryse
09:36 (GMT+2), Mon , 01 July 2013
Central SA
DIRK KOK

Die wol van ’n Vrystraatse boer het op die laaste veiling vir die seisoen in Port Elizabeth die tweede en derde hoogste pryse behaal op Cape Mohair and Wool se toptien-lys.

Willie Nel, van Frankfort, het R90/kg gekry vir sy 1 CL-wol van 17,3 mikron en ook R90/kg vir sy 3 DL-wol van 16,9 mikron.
Die hoogste prys van R95,95 is behaal deur die Hanekom Boerdery van Beaufort-Wes vir ? BH-lot van 16.8 mikron. Standard Wool was die koper.

CMW het gesê op die laaste veiling (5 Junie) van een van die beste wolseisoene nog in die geskiedenis is bykans 99% van die aanbod van die hand gesit.

Ofskoon die wisselkoers deels daartoe bygedra het dat die seisoen op 'n baie positiewe vlak afgesluit is, was die sterk kompetisie vir lang- en mediumwol ook baie bemoedigend.
Kortwol het egter effe goedkoper verhandel.

Die vernaamste prysbewegings was: wol van 18 mikron en fyner het 1.8% duurder verhandel en19-22 mikron was 2% op.
Sterkwol, waarvan daar 'n beperkte aanbod was, is teen 4-6% duurder verkoop
James de Jager, bestuurder: vesel van CMW, het gesê met die Internasionale Monetêre Fonds se voorspelling dat ekonomiese groei in die tweede semester kan verbeter, kan die aanvraag vir vetwol die huidige prysvlakke bly ondersteun.

“Die Euro-sone lande gaan egter steeds gebuk onder ’n skuldkrisis met gevolglike trae ekonomiese groei gedurende 2012 en 2013. China het ook ’n vertraging in ekonomiese groei gedurende dieselfde tydperk ondervind vanweë moeilike ekonomiese omstandighede in sy vernaamste uitvoerbestemmings, maar steeds ‘n groeikoers van 8% gehandhaaf. Wolverwerkings-aanlegte koop steeds aan op ’n van-die-hand-na-die-mond-grondslag in die verwagting dat kleinhandelbestellings vir die 2013 herfs- en winter-seisoene sal verbeter.”

Die eerste veiling van die nuwe seisoen is geskeduleer vir 21 Augustus.


Gallery
AgriEco
Voting Poll
Y