Central SA
SA wol hou avonturiers warm
10:39 (GMT+2), Mon , 01 July 2013
Central SA
DIRK KOK

Was dit nie vir hul eg Suid-Afrikaanse woldrag nie, was dit blêr(rie) koud gewees.

’n Bloemfonteinse avontuursportspan, die Fox on Fire-span, het vir vanjaar se uitmergelende Expedition Africa in en om die Drakensberg Suid-Afrika se eksklusiewe Core Merino-sportdrag gedra om hul teen die elemente te beskerm.

Hulle het Core Merino se drag op die Bloemskou gesien, hul huiswerk gedoen en besluit dit is hul drag vir die avontuurresies van 550 km waarin hulle vir ses dae lank feitlik dag en nag moes roei, swem hardloop, stap, bergklim, abseil en fietsry, sê Deon du Preez, ingenieur in die stad en leier van die span.

Suid-Afrika se wol het hom en die ander spanlede gehelp in die bittere koue ure en in die tye wat hulle maar swak was van die al die inspanning

“Of jy nou nat gesweet was of nat van die koue water, die wol het jou warm gehou.”

Sy vrou, Ina, ’n boekhouer, vertel: “Ek het in ’n stadium uit ’n boot in die water geval. Ek het net so nat aanhou roei tot elfuur daardie aand. Daar was nooit ’n stadium wat ek so koud was dat ek moes ophou nie.”

Herman Fourie, ’n soldaat van beroep en een van die ander spanlede, beaam wat sy sê: “Dié klere hou defnitief die hitte as dit nat is.”

Ilana Joubert, van BKB, sê Core Merino se klerereeks is goed ontvang op die onlangse Wolweek in Sandton.

“Dié produk is eie aan Suid-Afrika. Dit is die eerste SA Merino-produk van ’n baie fyn mikron wat teen die vel gedra kan word. Dit is fyn gebrei. Die wol hou jou warm terwyl dit terselfdertyd kan ‘asemhaal’. Dit is ideaal.”

Die vierde spanlid was Japie Delport, ’n Bloemfonteinse fisioterapeut.

Die Fox on Fire-span het 14de uit 31 internasionale spanne geëindig en was die agtste Suid-Afrikaanse span om die avontuurresies klaar te maak.



Bloemfontein se avontuursportspan met hul eg Suid-Afrikaanse wolklere. Voor sit Herman Fourie. Agter, van links, is Japie Delport en Ina en Deon du Preez. Foto: Dirk Kok




Gallery
AgriEco
Voting Poll
Y