Southern Cape & Karoo
Sybokhaar-koningin van die Karoo
13:29 (GMT+2), Mon , 29 July 2013
Southern Cape & Karoo
Annette Oelofse
Annette Oelofse Mohair Products se 9de winkel het onlangs in die Queens Mall op Oudtshoorn oopgemaak. Omdat 9 Augustus Vrouedag is, is dit gepas om uit te vind wie die vrou agter die projek is wat 'n inkomste aan meer as 40 vroue verskaf.

Annette Oelofse het op 'n plaas in die Carnarvon-distrik grootgeword, onderwys met huishoudkunde en naaldwerk op Maties studeer. Sy is met 'n boer getroud en woon op die plaas Kamferspoort in die Klipplaat-omgewing in die Oos-Kaap. Dit is van hier waar sy haar sybokhaar-koninkryk bestuur.

Vandat haar pa 40 jaar gelede vir haar ma 'n sybokhaarkombersie present gegee het, is sy mal oor bokhaar. Sowat 15 jaar gelede het sy 'n sybokhaar-ekspo in Beaufort-Wes bygewoon en besef daar is 'n geweldige leemte in die mark vir sybokhaar-produkte. "Ek het gesien dat die produkte so skaars soos hoendertande is en dat niemand 'n plan maak om dit te versprei in die land nie." Sy het 'n paar bokse vol komberse by een van die uitstallers bestel en verkoop, en so het haar besigheidjie begin. Kort voor lank het die produkte wat sy aangekoop het, nie meer in die mark voorsien nie.

"Toe die hoeveelste mens vra of ek nie dit of dat het nie, het ek self begin brei," vertel sy. "Kort voor lank was my twee hande te min, en hark ek my een buurvrou nader om te help."

Die hande het aangegroei en vandag is daar benewens voltydse personeel, sowat 40 mense van oral oor wat hekel, brei of spin. "Almal word per item betaal, want hulle werk van die Kaap tot Kairo by hul huise en op hul eie tyd. Ek wil graag nog baie mense oplei, maar geld en hulp is nie sommer maklik beskikbaar nie, en tyd kry ek nêrens te koop nie!"

Namate die produkreeks uitgebrei het, het al meer winkels begin belangstel om die produkte te verkoop. Vandag het sy naas die winkel in Oudtshoorn nog agt ander winkels - een op die plaas, nog een op Steytlerville, Willowmore, Port Elizabeth, Graaff-Reinet, Richmond en in Pretoria en Johannesburg.
Die meeste bestellings word per e-pos hanteer.


Gallery
Sybokhaar-koningin van die Karoo
...
AgriEco
Voting Poll
N